Vrou met Zika-virus besmet in Filippyne

Aedes aegypti-muskiet soos gesien deur 'n mikroskoop by die Fiocruz-instituut in Recife, Brasilië. Foto: AP Photo/Felipe Dana, File

Aedes aegypti-muskiet soos gesien deur ‘n mikroskoop by die Fiocruz-instituut in Recife, Brasilië. Foto: AP Photo/Felipe Dana, File

ʼn Amerikaanse vrou wat die Filippyne in Januarie besoek het, het positief getoets vir die Zika-virus nadat sy na die VSA teruggekeer het.

Janet Garin, gesondheidsekretaris van die Filippynse regering, het Sondag gesê haar departement werk tans saam met die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer (CDC) om meer inligting oor die vrou te bekom en vas te stel waar sy gebly het gedurende haar besoek aan die Filippyne.

Volgens Garin is dit die tweede Zika-virus geval wat in die Filippyne aangemeld is. Sy het beklemtoon daar is rede om ʼn uitbreking van die virus te vermoed en het die publiek gewaarsku hulle moet die nodige voorkomingsmaatreëls tref.

ʼn 15-jarige seun van Cebu-stad in die sentrale deel van die Filippyne is in 2012 met die virus besmet, maar het ten volle herstel.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in Februarie ʼn wêreldwye noodtoestand oor die virus afgekondig en gesê dit is ʼn “buitengewone voorval” wat ʼn bedreiging inhou vir die res van die wêreld. Die afkondiging is gemaak ná ʼn noodvergadering van onafhanklike kenners wat ontbied is in reaksie op ʼn toename in die getal babas wat met breinskade of abnormaal klein koppe in Brasilië gebore is, sedert die virus verlede jaar vir die eerste keer daar aangemeld is.

Verlede maand is ʼn Colombiaanse sakeman tydens ʼn besoek aan Johannesburg met die Zika-virus gediagnoseer. Die man het ook ten volle herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.