Vrou moet man se erfgeld met skelmpie deel

Foto ter illustrasie. (Foto: Josh Appel/Unsplash)

Die vrou van ʼn Italiaanse man wat meer as ʼn jaar gelede in ʼn motorongeluk dood is, moet sy lewensversekering met haar man se skelmpie deel.

Dít nadat die minnares se prokureur, Gino Arnone, die versekeringsmaatskappy oorreed het dat sy ook vergoeding verdien ná haar verlies.

Die 39-jarige oorledene van Turyn, in die noordweste van Italië, was getroud en het ʼn jong seun gehad. Hy het egter ook gedurende sy huwelik ʼn vaste verhouding met ʼn ander vrou aangeknoop.

Volgens die dagblad La Stampa het die polisie die minnares gekontak om die oorledene se lyk uit te ken. Sy vrou was glo nie beskikbaar nie weens werksverpligtinge buite die dorp.

Die minnares beweer dat die man gewoonlik drie dae ʼn week saam met haar deurgebring het, terwyl hy die res van die week by sy gewone familie was.

Hoewel die bedrag wat die lewensversekeringsmaatskappy uitbetaal het, onbekend is, berig die dagblad dat ʼn aansienlike bedrag betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

tweeling ·

Wat sê die testament? Ek sien natuurlik ook dat die prokureur gesien het hier kom ‘n paar euro wat ek nie moet laat verby gaan nie.

Snowball ·

Het die prokureur die versekeringsmaatskappy oorreed of dit in ‘n hof laat bepaal? Tensy ‘n testament dit so voorskryf, hoe kan die vrou in ‘n wettige huwelik, (waar daar ook ‘n kind is) ondergeskik wees aan die behoeftes van die vrou in die buite -egtelike verhouding?
Buiten die wetlike aspek, wat van die morele en etiese vrae wat ontstaan?
Nie net is die vrou ‘n slagoffer van ‘n ontroue egbreker nie, maar sy en haar kind word finansieel benadeel deur die een waarmee haar man haar verneuk.
Ek is seker sy kan die eis teenstaan in ‘n hof, wat haar belange as wettige huweliksmaat en ouer van ‘n kind moet beskerm.

Danie ·

n Hof oorweeg nie morele en etiese vrae nie.
Dit gaan slegs oor die feite.
Die buite egtelike verhouding het nie n negatiewe invloed gehad op bates wat die man tydens sy leeftyd geakkumuleer het nie (ek raai) en dit het ook nie die huwelik laat verbrokkel nie so die man se vrou het geen teeneis nie.
Die feit is dat die skelmpie wel n verlies gely het en gekompenseer kan word.

Snowball ·

Ek het ook gesê BUITEN die wetlike aspek, is daar morele en etiese vrae oor dié saak.
Die wettige vrou (en haar kind) het volgens my die reg tot die lewensversekering aangesien sy in ‘n huwelik was (wat sekerlik deur die wet erken word).
Hoe word die verlies van die skelmpie bereken? Verlies aan inkomste? Is sy geregtig daarop as die man dit nie nodig geag het om haar in ‘n testament te benoem nie? Gaan enige skelmpie (gereelde prostituut of houvrou) nou voortaan kan “claim” hulle ly verliese en aandring op kompensasie?

johann ·

Ons weet nie hoe werk Italie se wette nie maar ek glo nie (hoop nie) dit sal in SA kan gebeur nie

Snowball ·

Hier in SA is pas voorgestel dat poliandrie (getroud met meer as een man) gewettig word, want poligamie (getroud met meer as een vrou) is reeds wettig. So HIER in SA, is enige iets dalk moontlik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.