Vrou ná twee jaar met hond herenig

‘n Skermskoot uit WFMZ News se onderhoud met Alisha Nieves.

ʼn Vrou is ná twee jaar weer met haar geliefde hond herenig nadat sy hom per toeval op ʼn lys van aanneembare honde by ʼn plaaslike reddingsentrum in Pennsilvanië, Amerika, gesien het.

Volgens CNN was Alisha Nieves verpletter toe sy twee jaar vantevore haar hond, Kovu, in Allentown verloor het.

“Hy was soos my baba en het oral saam met my gegaan. Hy was die definisie van ʼn beste vriend,” het Nieves tydens ʼn onderhoud met WFMZ News gesê.

Volgens dié nuusagentskap het ʼn kar in Junie 2019 in Nieves se heining vasgery en teen die tyd wat sy by haar huis aangekom het, het Kovu reeds uit die erf ontsnap. Nieves het oral na hom gesoek en selfs by haar plaaslike reddingsentrum gaan aanklop om hulp.

Kovu, ʼn rottweiler gekruis met ʼn pitbull, is later deur die Lehigh County Humane Society (LCHS) gered en hulle het hom Ash gedoop.

“Weens sy tyd op straat het hy vir vier maande intensiewe behandeling vir vlooie en inflammasie ontvang voordat hy weer aangeneem kon word,” het Julie Huber, woordvoerder van LCHS, aan CNN gesê.

Teen die tyd wat Nieves weer by die reddingsentrum aangeklop het, was Kovu reeds deur ʼn ander familie aangeneem.

“Dié gesin was egter op die punt om uit hul huis gesit te word weens die Covid-19-pandemie vanjaar en moes Kovu in Junie aan die LCHS terugbesorg.”

Dis toe dat Nieves haar geliefde troeteldier se bekende gesig op die LCHS se webtuiste herken het. Sy het glo ʼn klein litteken bo sy regteroog herken en dadelik dié sentrum gekontak.

“Nadat sy ʼn bewys van eienaarskap by die LCHS ingedien het, het Nieves by die hond kom kuier. Dit was vir almal duidelik dat Kovu haar troeteldier was,” het Huber gesê.

Kovu het in ekstase na Nieves toe gehardloop en op haar gespring en gelek. Hy het in sirkels gehardloop en elke nou en dan in Nieves se arms gespring.

Volgens Huber was die reünie onvergeetlik spesiaal. “Dit was ʼn oomblik wat almal hoendervleis gegee het.”

“Ek is net so bly hy is weer terug by my,” het Nieves aan WFMZ News vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aai ·

Aai so mooi om te weet jy kan ‘n hond iets leer en hy sal by dit bly altyd onthou.(kan dit nie altyd van mensdom se)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.