Vrou oor naalde in aarbeie aangekeer

’n Facebook-gebruiker het dié foto van ’n aarbei met ’n naald daarin gedeel. Foto: Facebook

Australië se polisie het ʼn vrou in Queensland in verband met die “aarbei-paniek” in hegtenis geneem nadat naalde twee maande gelede in van dié vrugte gekry is en dit die bedryf op sy knieë gedwing het.

Beamptes sê die vrou is Sondag in hegtenis geneem ná ʼn “ingewikkelde en uitgebreide ondersoek”, berig die BBC.

Die 50-jarige My Ut Trinh, ʼn Viëtnamees wat 20 jaar gelede na Australië gekom en intussen burgerskap gekry het, het as toesighouer gewerk by die aarbeiboerdery Berrylicious in Caboolture, noord van Brisbane, berig die Belgiese dagblad De Standaard.

Die motief vir haar optrede was blykbaar om wraak op haar werkgewer te neem en hulle geldelike skade te berokken. Haar DNS is aan enkele van die aarbeie gevind waarin sy naalde versteek het.

Sy is voorlopig nie op borgtog vrygelaat nie omdat die polisie vir haar veiligheid vrees en moet op 22 November in Brisbane se landdroshof verskyn, berig die Brisbane Times.

Sy word aangekla van sewe aanklagte van die besmetting van goedere en kan tot 10 jaar tronkstraf opgelê word as sy skuldig bevind word, berig Deutsche Welle.

“Dis ʼn groot en ongekende polisieondersoek wat vele ingewikkelde aspekte behels het,” het speursuperintendent Jon Wacker Sondag in ʼn verklaring gesê.

“Queensland se polisiediens het ʼn aansienlike hoeveelheid polisiehulpbronne daaraan afgestaan om seker te maak dat die skuldige aan die man gebring word.”

In September vanjaar het verbruikers in ses van Australië se agt state of gebiede op versteekte naalde in aarbeie afgekom. ʼn Man is hospitaal toe gebring toe hy van maagpyn gekla het nadat hy aarbei geëet het.

Altesaam honderd gevalle is eindelik in Australië aangemeld en een in Nieu-Seeland, het Maroela Media einde September berig.

Die regering van die staat Queensland, waar die verskynsel die eerste keer aangemeld is, het ʼn beloning van sowat R1 miljoen aangebied vir inligting wat kon lei tot die inhegtenisneming van die skuldiges.

Die adjunkvoorsitter van Queensland se Aarbeikwekersvereniging, Adrian Schultz, het die naalde in aarbeie as ʼn daad van “handelsterreur” bestempel wat die multimiljoenrand-bedryf “ernstig geknou” het.

“Ek is kwaad namens almal wat geraak word, die boere, die mense wat hulle voorsien, die verpakkingsmense, die vragmotorbestuurders en hul gesinne wat hulle moet ondersteun, wat skielik hul werk verloor het … dis verreikend.”

In hoogseisoen is talle kwekers gedwing om vrugte te stort en baie het versoeke ontvang om hul vrugte vir naalde na te gaan nadat na-apers glo ook naalde in vrugte, waaronder piesangs, versteek het.

Australië se federale parlement het intussen blitsvinnig wetgewing deurgevoer met swaar strawwe van tot 15 jaar vir diegene wat met kos peuter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SoosDitIs ·

Daar is makliker maniere om wraak te neem sonder om die res van die wereld te raak, vrou!

Liberalis ·

Australie, welkom in die wereld van liberale waardes waar loongeskille drasties kan raak, waar die vrou se reg om te protes meer waarde dra as die gevolge van haar dade.

AmY ·

Sluit haar vir baie lank op, en deporteer haar dan eers terug.

Karolis ·

Dit moet ‘n traumatiese ondervinding wees om elke keer wanneer jy ‘n aarbei eet, ‘n steek te kry.

wielie ·

Die vrou het net aan haarself gedink. Die is poging tot moord. Sluit haar toe gooi sleutel weg ……

Stan ·

Geluk aan Queensland Forensiese avdeling om nie die naald in hooi (Arbeie) op te spoor nie maar wel die oorsprong daarvan.

E.K. die eerste ·

Dis BAIE erg. Hoop tog net nie iemand hier rond na-aap die daad nie.

Nettie ·

OK, hoe eet mens ‘n aarbei, sonder dat jy dit behoorlik kou voor jy dit insluk? Hoe is dit dus moontlik dat jy ‘n naald van – kom ons sê 4 cm – kan insluk en nie dit raak- of stukkend byt vooraf nie? Ek weet nie, ek kou seker maar net my kos deeglik voor ek dit insluk, want ek het nog nooit iets …e… ongewoons ingesluk nie (nie wat ek van weet nie, ten minste!).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.