Vrou oorleef ʼn week op strand na motorongeluk

Angela Hernendez is na ‘n week op ‘n afgeleë strand gered (Foto: Monterey County Sheriff’s Office via AP)

ʼn Vrou wie se motor sowat 76 m by ʼn krans af geval het op ʼn afgeleë strand in Kalifornië, is ʼn week later lewend deur strandgangers gevind.

Die 23-jarige Angela Hernandez van Portland in Oregon was op 6 Julie in haar Jeep op pad na haar suster toe. ʼn Klein dier het oor die pad voor haar ingehardloop en sy het uitgeswaai vir die dier. Sy het beheer oor die motor verloor en by ʼn hoë krans afgetuimel.

“Die enigste ding wat ek regtig onthou, is toe ek wakker geword het,” het Hernandez later op Facebook geskryf vanuit haar hospitaalbed. “Ek was steeds in my kar en ek kon voel hoe water oor my knieë begin styg. My kop was baie seer en toe ek daaraan raak was daar bloed op my hande.”

Hernandez het gesê sy het ʼn venster gebreek en uit die kar in die see gespring. Sy het toe na die strand geswem. Sy het op die stand aan die slaap geraak en eers besef wat gebeur het toe sy later wakker word.

Chelsea Moore (34) en haar man, Chad (31), het op Hernandez afgekom. Hulle het in die omgewing gekamp. Hulle het besluit om by ʼn krans af te klim na ʼn afgeleë strand om ’n goeie visvang- of branderplankry-omgewing te vind.

In stede daarvan het hulle op ʼn kar se buffer afgekom, en ʼn kort rukkie daarna het hulle die wrak van ʼn Jeep gesien. Daar was niemand in die motor nie.

Die egpaar het foto’s van die nommerplate geneem om vir die polisie te wys. “Ons het albei saamgestem dat niemand die val oorleef het nie,” het Moore gesê.

Hulle het toe verder met die strand afgestap en iemand gehoor wat om hulp skree en vir Hernandez gewaar. Volgens hulle het Hernandez twee blou-oë gehad, asook gebarste bloedvate in haar oë.

“Sy was só bly om ons te sien, sy was nie eens seker of ons werklik is nie,” het Moore gesê. “Sy het vir ons gesê dat ons die eerste mense is wat in dae sien en dat sy nie seker is hoeveel dae al verby is nie. Ons het vir haar gesê ons gaan haar help en haar van die strand af kry.”

Volgens Moore was Hernandez nie in ʼn goeie toestand toe hulle haar gekry het nie.

“Haar klere was aan flarde en haar sokkies was opgeskeur, sy het nie skoene aangehad nie. Sy was ook baie nat, want wanneer die getye hoog is op daardie strand, ís daar geen strand nie. Sy het gesê sy sou partykeer op die strand slaap en dan in die nag wakker word omdat die branders haar tref,” het Moore gesê.

Hernandez vertel sy het ʼn hoër punt gevind en amper elke dag daar opgeklim om verder van die branders af te bly.

“Ek kon die motors oor die krans sien en hoor ry, en ek het gedink as ek so hard skree soos ek kan, dat iemand my dalk sal hoor of sien. Ek het net een mens nodig gehad wat my raaksien,” het sy gesê.

Hernandez sê dit was vir haar onwerklik toe die Moore-egpaar op die stand sien stap. “Ek het gedink dit is ʼn droom,” het sy gesê.

Terwyl Chad by Hernandez gebly het, het Chelsea die krans weer uitgeklim om hulp te gaan soek. Sy het komberse, droë klere en eetgoed vir Hernandez gebring. Ure later kon reddingswerkers Hernandez help en het haar met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem.

Die Moore-egpaar en Hernandez het hul dankbaarheid uitgespreek oor die uitkoms van die voorval.

“Ons is so bly sy leef nog, maar sý is die eintlike held. Ons het met haar [Hernandez] op die telefoon gepraat toe sy in die hospitaal was, sy het gesê sy wil haar kinders na ons vernoem. Ons is albei dankbaar vir mekaar,” het Moore gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wow Wow Wow ·

Wow wat ‘n ongelooflike storie. Sjoe dit moes vreesaanjaend vir haar gewees het om die paar dae te oorleef. Ek is egter mal oor hoe sy redeneer en dink in gevaar, sy maak planne!!!!!! As ek net hard genoeg kan skree vir 1 persoon, wow mag sy heeltemal herstel en ‘n gelukkige lewe hê, aan die 2 helde well done.

Hannelie ·

Ek dankbaar dat sy oorleef het. Mens is so dankbaar vir die twee mense wat op haar afgekom het. Mag sy gou gesond word.

Annakapat ·

En het haar familie haar nie gemis nie? Die suster waarheen sy oppad was …?

Klara ·

Groot is die genade van die Goeie Herder wat liewe mense stuur na Sy skapie in uiterste nood… Alle eer aan Hom.

madels ·

Wat n ongelooflike wonderwerk. Wow, dis werklik nou goeie nuus van die vroutjie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.