Vrou oorval deur oproepe nadat nommer in ‘Squid Game’ verskyn

Netflix het gesê hy sal tonele in sy trefferreeks Squid Game redigeer nadat ʼn vrou gesê het sy word oorval deur oproepe op haar selfoon.

Die grusame Suid-Koreaanse drama handel oor platsak deelnemers wat genooi word om ʼn spesifieke nommer te skakel en deel te neem aan lewe-en-dood-kinderspeletjies vir geld.

ʼn Sakevrou in Seongju in die suidooste van Suid-Korea het aan plaaslike media gesê sy ontvang duisende boodskappe en oproepe op haar foon, “tot op die punt waar dit moeilik is om met my daaglikse lewe voort te gaan”.

“Dit is ʼn nommer wat ek al vir langer as tien jaar gebruik, so ek is nogal uit die veld geslaan. Daar is meer as 4 000 nommers wat ek van my foon af moes vee,” het sy aan Money Today gesê.

“Eers kon ek nie verstaan hoekom nie, maar ʼn vriend het my vertel dat my nommer in Squid Game verskyn en dis toe dat ek besef wat aangaan.”

Sy het glo versoeke wat tot meer as vyf miljoen won (sowat R65 000) sou beloop van die hand gewys.

Netflix het aanhangers van die reeks gemaan om nié die nommer te skakel nie. “Ons werk saam met die produksiemaatskappy daaraan om dié probleem op te los en dit sluit in die redigering van die tonele waarin die nommer verskyn,” het Netflix Woensdag gesê.

Die reeks het op 17 September gedebuteer en het die no. 1-posisie in 90 lande bereik in slegs tien dae.

Terwyl die genre van die reeks nuut is, het gehore regoor die wêreld aanklank gevind by die treffende beeldmateriaal, karakters en ontstellende taksering van die menslike natuur.

Wi Ha-Joon in ‘Squid Game’. (Foto: IMDb)

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.