Vrou sterf toe walvis wou asemhaal

Jennifer Karren en haar man Trevor op hul huweliksdag in Augustus 2012

Jennifer Karren en haar man Trevor op hul huweliksdag in Augustus 2012

Jennifer Karren (35) van Calgary in Kanada is dood en twee toeriste is beseer toe ʼn walvis hul boot getref het.

Daar was nege toeriste op Cabo Adventures se boot toe die walvis hulle getref het toe hy wou asemhaal. Die toeriste was op pad terug nadat hulle gaan snorkel het.

Die voorval het naby die vakansieoord in Cabo San Lucas in Mexiko plaasgevind.

“Die boot het teruggekeer toe die walvis skielik verskyn het,” het Cabo Adventures in ʼn verklaring gesê. “Die kaptein het tevergeefs probeer om die boot gou genoeg te draai om die walvis te vermy.”

Karren het in die water geval en ʼn bemanningslid en ʼn passasier het haar in die boot teruggetel en vlootpersoneel van Mexiko het haar na ʼn kliniek geneem. Sy het tydens behandeling aan haar beserings beswyk.

Sergio Villarreal, woordvoerder vir die staatsaanklaer, het gesê sy is dood weens ʼn kopbesering.

Jorge Urban, ʼn professor in biologie by die Baja California State University het gesê sulke ongelukke is baie ongewoon. “Dit is die eerste keer in 30 jaar wat ek walvisse bestudeer dat só iets gebeur,” het Urban gesê. “Gewoonlik is dit die walvis wat ʼn paar skrape opdoen wanneer ʼn boot hulle tref.”

Bron: Daily Mail, CBC News, National Post

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.