Vrou van Namibiese speaker sterf ná oorsese besoek

Jane Katjavivi. (Foto: Dr Hage G. Geingob/Twitter)

Die vrou van die speaker van die nasionale vergadering in Namibië is vroeg Dinsdagoggend in die ouderdom van 70 jaar dood.

Jane Katjavivi is glo ná ʼn besoek aan Engeland saam met haar man, prof. Peter Katjavivi, oorlede. Peter het in Engeland ʼn hoflikheidsbesoek aan sy eweknie by Westminster afgelê voordat hulle huiswaarts gekeer het en sy dood is.

Verdere besonderhede oor haar skielike dood is nie in hierdie stadium bekend nie, maar Katjavivi se familie het aan die Namibiese nuuswebwerf New Era gesê dat hulle binnekort ʼn verklaring oor haar dood sal uitreik.

Katjavivi was ʼn kampvegter vir Namibiese onafhanklikheid en ʼn bekende skrywer wat ʼn aandeel gehad het om Namibiese literatuur op te bou en te bewaar.

Pres. Hage Geingob van Namibië het intussen sy meegevoel met Katjavivi se geliefdes betuig.

“Jane sal deur baie van ons gemis word vir haar saggeaardheid en gewilligheid om mense in nood by te staan,” het Geingob kort ná haar dood gesê.

“Ons sal vir altyd die rol wat sy gespeel het om taal in die land te ontwikkel en literatuur te bewaar, koester.”

Jane Katjavivi en haar man Peter. (Foto: Dr Hage G. Geingob/Twitter)

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die nasionale vergadering in Suid-Afrika, het in ʼn verklaring gesê dat sy die aand van Katjavivi se dood ʼn oproep na Peter gemaak het om die parlement se meegevoel te betuig.

“Haar dood is ʼn groot verlies vir die mense van Namibië, asook die wetgewende sektor in die hele Suidelike Afrika,” sê Mapisa-Nqakula.

Mapisa-Nqakula het intussen onderneem om die nuus oor haar dood aan Afrika se inter-parlementêre unie (IPU) se taakspan oor die Rusland-Oekraïne-konflik mee te deel. Mapisa-Nqakula en prof. Peter Katjavivi dien saam in dié taakspan.

Dit is nog nie bekend wanneer Katjavivi ter ruste gelê sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Swapo vegter? Moet seker maar stil bly.

Manie ·

Lees onder die debat kolom die berig oor ons plig om lewende monumente te bou, dalk maak dit meer sin indien jy oud genoeg is om dit te verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.