ʼn Vrou is in hegtenis geneem nadat nege mense gesterf het toe ʼn brand by ʼn woonstelblok in ʼn welgestelde distrik van Parys in Frankryk uitgebreek het.
Die vrou, ʼn inwoner van die agtverdiepinggebou is naby die toneel aangekeer, het staatsaanklaer Remy Heitz gesê. Volgens hom het die vrou ʼn geskiedenis van sielkundige probleme. ʼn Saak van brandstigting word ondersoek.
Ongeveer 30 persone, insluitend agt brandbestryders, is beseer.
Die brand het Maandagaand op die gebou se sewende of agtste verdieping ontstaan en is eers teen Dinsdagoggend 07:00 onder beheer gebring. Reddingswerk duur voort.
“Daar is ʼn moontlikheid van ʼn ineenstorting tussen die sewende en agtste verdieping,” het Valerian Fuet, woordvoerder van die brandweer, aan dpa gesê. “Ons weet nie of daar nog enige ander slagoffers in die woonstelle is nie.”
Uitsaaier France Info het berig die gebou is in die 1970’s opgerig en moes in sy geheel ontruim word. Inwoners van verskeie nabygeleë geboue is ook ontruim. Talle inwoners het uit hul vensters na hulp geroep en ander het na die dak gevlug vir veiligheid. Verskeie inwoners is met lere uit die gebou gered.
Anne Hidalgo, burgemeester van Parys, het haar meegevoel met die slagoffers se families betuig. Sy het die brandbestryders bedank wat “weereens hul lewens gewaag het”.
Vier mense, waaronder twee brandbestryders, is in Januarie dood en talle beseer tydens ʼn gasontploffing by ʼn bakkery in Parys.