’n 51-jarige werknemer van ’n tehuis vir gestremdes in Potsdam, naby Berlyn in Duitsland, word daarvan beskuldig dat sy vier inwoners gewelddadig vermoor en ’n vyfde gewond het. Die vrou is sedertdien onder psigiatriese toesig geplaas.
Die slagoffers, twee mans en twee vroue, is tydens ’n gewelddadige aanval met ’n mes doodgesteek. Die slagoffers, wie se ouderdomme nie bekend is nie, se liggame is in hulle kamers in dié tehuis aangetref.
“Die staat wou die beskuldigde aanvanklik op ’n vermoede van strafbare manslag in hegtenis laat neem. Weens duidelike bewyse van geestesgesondheidsprobleme het die landdros egter beveel dat sy onder psigiatriese toesig geplaas word,” het staatsaanklaer Wilfried Lehmann gesê.
Lehmann kon hangende die ondersoek nie verdere inligting verskaf nie.
Dit is tans onduidelik wat tot die moorde gelei het. ’n Woordvoerder vir die staat het gesê dat die moorde oënskynlik nie met voorbedagte rade gepleeg is nie, maar dat daar “verskriklike geweld” betrokke was.
Sowat 65 mense word in dié tehuis gehuisves. Mike Schubert, burgemeester van Potsdam, het die sterftes as ’n “onverklaarbare daad” bestempel.
Dit is nie die eerste hoëprofielvoorval van dié aard by ’n inrigting vir geestesgesondheid of tehuis vir gestremdes in dié land nie.
In 2019 is ʼn verpleër, Nield Hoegel, tronkstraf opgelê nadat hy 85 pasiënte in sy sorg vermoor het. Hy is sedertdien as een van die mees berugte reeksmoordenaars in Duitsland bestempel.