Vrou verhoor wat man ná ‘jare lange mishandeling’ vermoor

Valérie Bacot (middel) word na die hof begelei. (Foto: Jeff Pachoud / AFP)

Die verhoor van ’n 40-jarige Franse vrou wat haar man vermoor het ná hy haar glo meer as 25 jaar lank verkrag en mishandel het, het Maandag in Chalon-sur-Saône in die Burgundy-streek begin.

Valérie Bacot het Daniel Polette (60), wat haar glo as prostituut uitgehuur en haar vir die eerste keer as kind verkrag het, in 2016 in sy motor doodgeskiet.

In 2020 het Bacot se boek, Everybody knew, verskyn waarin sy onder meer skryf dat sy altyd “in vrees” gelewe het en ’n einde aan die mishandeling moes bring om “haar kinders te beskerm”.

Die saak het wye reaksie ontlok, veral onder aktiviste teen geslagsgebaseerde geweld, wat ’n petisie vir Bacot se vrylating begin het.  Meer as halfmiljoen mense het reeds die petisie onderteken.

Twee van Bacot en Polette se vier kinders het haar destyds gehelp om sy lyk in ’n woud te begrawe.

Bacot is ’n jaar later in hegtenis geneem en het in 2018 skuld op die moord beken. Omdat Polette van agter af in die nek geskiet is, kan selfverdediging nie as verweer deur Bacot voorgehou word nie.

Luidens beriggewing is Bacot meer as twee dekades lank deur Polette mishandel, wat begin het toe sy 12 jaar oud was. Polette was in dié stadium in ’n verhouding met Bacot se ma, wat na bewering ’n alkoholis was.

Polette is aanvanklik vir dié mishandeling in hegtenis geneem en het ’n paar jaar in die tronk deurgebring. Die mishandeling het egter ná sy vrylating weer begin.

Toe Bacot in 2017 swanger raak, het haar ma haar uit die huis geskop en het sy noodgedwonge by Polette gaan woon, waarna sy glo jare lank aan verskeie vorme van mishandeling en seksuele geweld onderwerp is.

Volgens Bacot se regspan het Polette haar herhaaldelik met die dood gedreig indien sy sou weier om as prostituut vir sy “kliënte” op te tree. Sy moes glo ’n gehoorstuk dra sodat Polette heeltyd met haar kon kommunikeer en opdragte uitdeel.

Dit was tydens een van dié voorvalle dat Polette met ’n vuurwapen wat hy in sy motor gebêre het, doodgeskiet is.

Polette het Bacot glo ook gereeld aangerand en haar tydens een van sy woede-uitbarstings met ’n hamer aangeval.

Polette se prokureurs, Janine Bonaggiunta en Nathalie Tomasini, het voorheen ’n saak vir Jacqueline Sauvage gewen wat vir die moord op haar man, wat haar glo erg mishandel het, tereggestaan het.

Sauvage was aanvanklik tot 10 jaar tronkstraf gevonnis, maar is met behulp van haar regspan deur ’n presidensiële kwytskelding vrygespreek en as ’n simbool in die stryd teen geweld teen vroue en kinders bestempel.

“Hierdie vroue is slagoffers van geweld en het geen beskerming nie. Die regstelsel is steeds te traag en tree nie streng genoeg op teenoor oortreders wat geweld tenoor vroue en kinders pleeg nie, gevolglik duur geweld en mishandeling voort,” sê Bonaggiunta.

“Dít is presies wat ’n desperate vrou tot moord kan dryf om te oorleef.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Al die storie gehoor van die man wat vir jare en jare sy vrou verniel het. Eendag toe hy haar weer wil neuk wys sy vir hom die groot sker waarmee die heinings geknip word, en se vir hom “een of ander tyd moet jy slaap!”

melaney

Ek ken ook ‘n pragtige (en baie ordentlike) dame wie se man sy hande teenoor haar gelig het. Dit was die eerste en laaste keer. Hy dra haar nou behoorlik op sy hande want hy weet hoe groot kan sy vuis maak en watse pyn hy sal deurmaak.

Misky

Ek neem aan daai een paragraaf verkeerd en moet lees nadat sy in “2007” swanger geraak het en nie 2017 nie……

Maar dis vreeslik erg en kan net dink watse uitwerking het dit op iemand as die tipe mishandeling oor jare en selfs dekades plaasvind. Enige mens sal “snap” en genoeg is genoeg.

VaalDonkie

eerder laat as nooit reken ek

katerinadiekat

Ja dis aaklig, selfs al word mens nie heeltyd geslaan nie. Abuse such as constantly treating your spouse like total trash, for decades, is soul killing too. Mens het nie altyd ander familie om by te gaan woon, as mens nie werk of jou eie inkomste het nie. Then one is pretty much trapped. Ek sit met so n huwelik. Hopelik noudat my jongste kind al 15 is, kan ek binnekort skei. My man wil nie skei nie want dan moet hy sy pensioen halveer. Maar dis nou maar sy probleem, ten minste het ek hom nie vermoor nie.