Vrou wat noodkeisersnee kry toe nie swanger

Adele Barbour het spina bifida en skoliose gehad (Foto: Facebook)

Net meer as ʼn jaar nadat Adele Barbour in Januarie 2018 tydens ʼn operasie in Engeland gesterf het, is bevind die dokters wat betrokke was het nie enige misstappe begaan nie.

Meer as 30 medici het hulle destyds na die toneel net buite Nettleham in Engeland gehaas waar Barbour (48) in ʼn motorongeluk betrokke was.

Daily News berig Barbour het op die toneel weens haar veelvuldige beserings ʼn hartaanval gekry en paramedici het haar na ʼn hospitaal gehaas. Op pad daarheen het hulle die hospitaal laat weet dat hulle ʼn swanger vrou in haar laat 30’s inbring.

By die hospitaal is ʼn noodkeisersnee op Barbour gedoen, maar die dokters kon geen fetus vind nie. Sy was nooit swanger nie. Paramedici op die toneel het Barbour se opgeswelde maag, as gevolg van haar spina bifida en skoliose, vir ʼn swangerskap aangesien.

Barbour het in die hospitaal gesterf.

Meer as ʼn jaar later het dr. Anthony Leetman, die man wat die omstandighede rondom Barbour se dood ondersoek het, tot die gevolgtrekking gekom dat die paramedici op die toneel en die dokters wat die keisersnee gedoen het, nie verkeerd opgetree het nie.

Adele Barbour (Foto: Facebook)

Leetman het in sy verslag, wat pas uitgereik is, gesê die paramedici het ʼn uitsonderlike werk gedoen om ʼn vrou in haar dodelik beseerde toestand by die hospitaal uit te kry, maar dat sy nie gehelp kon word nie. “Ongelukkig sou sy in enige ander omstandighede steeds gesterf het,” het hy in die verslag geskryf.

Mirror berig noodpersoneel wat tydens die geregtelike doodsondersoek getuig het, was ook van mening dat paramedici onder die omstandighede reg opgetree het en dat die verkeerdelike diagnose van haar swangerskap nie bygedra het tot haar dood nie.

Sarah-Jane Spence, Barbour se suster, beweer dokters het nie vir haar gesê dat hulle ʼn keisersnee op haar suster gaan doen, toe hulle onmiddellik na Barbour se aankoms by die hospitaal haar laat weet het dat sy ʼn operasie nodig het nie.

“Hulle het my die volgende dag gebel en gevra of ek bewus is daarvan dat die dokter gedink het my suster is swanger, en ek het gesê ek het niks daarvan geweet nie,” het sy gesê. Spence en haar familie het eers ná Barbour se dood gehoor van die keisersnee wat op haar suster gedoen is.

Hoewel Spence ontsteld is oor die gebrek aan deursigtigheid met betrekking tot die situasie, glo sy dat die dokters en paramedici goed bedoel het met hul optrede. “Ons glo dat almal betrokke in haar saak opgetree het om haar lewe te red, maar dit sou ons deur die proses gehelp het as ons die waarheid geweet het,” het Spence gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CB ·

In die laaste paragraaf, moet dit opgetree of optrede wees?

Dit is verskriklik! Sterkte aan haar familie!

Mariné Lourens ·

Dagsê CB

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.