Vroue gered ná vyf maande op see

Seeredding Honolulu

Jennifer Appel groet die hoofbevelvoerder van die USS Ashland, Gary Wise. (Foto: Jonathan Clay/U.S. Navy via AP)

Twee vroue is deur die Amerikaanse vloot gered nadat hul seilboot op ʼn vaart van Hawaii na Tahiti onklaar geraak het en hulle vir meer as vyf maande in die see rondgedobber het.

Die reis van sowat 4 400 km neem onder normale omstandighede ongeveer drie weke om te voltooi.

Jennifer Appel (48) het vertel sy en Tasha Fuiava het op 3 Mei met hul seilboot, The Sea Nymph, uit Hawaii vertrek en amper dadelik in die moeilikheid beland toe stormsterk wind van 80 tot 100 km/h hul drie dae lank geteister het. Hulle het egter besluit om hul reis voort te sit.

Die seilboot se enjin het teen einde Mei onklaar geraak, maar die vroue het gedink hul sal slegs met die gebruik van die seile oor die weg kan kom. Die takelwerk van die mas was egter beskadig en die twee kon nie enige vordering maak nie.

Terwyl hulle vir maande hulpeloos in die middel van die Stille Oseaan rondgedobber het, het die vroue se watersuiweringstoestel gebreek en hul voedselvoorraad was laag. Haaie het begin om opsetlik in die boot vas te swem en niemand het op die vroue se noodseine gereageer nie.

Een van hulle selfone het ook vroeër oorboord geval en hulle was ver buite bereik van selfoonseine. Vyf en ʼn half maande nadat die vroue uit Hawaii vertrek het, het ʼn Taiwanse vissersboot The Sea Nymph ongeveer 1 450 km van die Japanse kus opgemerk.

seeredding

(Foto: Jonathan Clay/U.S. Navy via AP)

Die USS Ashland van die Amerikaanse vloot het tot die vroue en hul twee honde, Zeus en Valentine, se redding gekom.

“Ek het trane in my oë gehad,” het Appel gesê. “Dit was oorstelp.”

Volgens Appel het sy en Fuiava die reis vir langer as twee jaar beplan. Ervare matrose in Honolulu het die vroue voor die reis gemaan om deeglik vir die reis voor te berei en op hulle aandrang het hulle droë kos soos hawermout en pasta saamgeneem.

“Hulle het gesê ons moet elke deel van die boot pak met kos, en as jy dink jy het kos nodig vir ʼn maand, dan pak jy genoeg vir ses maande, want jy weet nooit wat moontlik daar buite kan gebeur nie,” het Appel gesê. “Dit was baie goeie raad. Hier is ons.”

Namate die maande verbygegaan het, het die hondekos ook opgeraak. “Die honde het besonder baie van die kos gehou wat ons geëet het,” het Appel gesê.

Intussen het die vroue se naasbestaandes geen idee gehad waar hulle is nie. Appel se ma, Joyce Appel, het gesê sy het die kuswag gekontak toe sy na ʼn week en ʼn half niks van haar dogter gehoor het nie. Sy het egter nie moed verloor dat die paar gevind sou word nie.

The Sea Nymph is ongeskik verklaar vir gebruik, maar Appel het gesê sy hoop om die boot uiteindelik te herstel en weer daarmee te vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.