VSA blameer Rusland vir reuse-kuberaanval

Mike Pompeo. Foto: Tami Chappell/AFP

Rusland is “redelik duidelik” die oorsprong van ʼn verwoestende kuberaanval op verskeie Amerikaanse regeringsinstansies en ander slagoffers wêreldwyd, het Mike Pompeo, minister van buitelandse sake, gesê.

Volgens Microsoft het hy meer as 40 kliënte in kennis gestel wat deur die skadelike sagteware geraak word. Volgens veiligheidskenners kan dié sagteware aan kuberaanvallers onbeperkte netwerktoegang bied tot belangrike regeringstelsels, kragnetwerke en ander nutsdienste.

Ongeveer 80% van die kliënte wat hierdeur geraak word, is in die Verenigde State, het Brad Smith, president van Microsoft, gesê. Daar is ook slagoffers in België, Brittanje, Kanada, Israel, Mexiko, Spanje en die Verenigde Arabiese Emirate.

Smith het soos Amerikaanse amptenare sy kommer uitgespreek oor die ernstige bedreiging wat die aanval inhou.

“Dit is nie ‘spioenasie soos gewoonlik’ nie, selfs nie in die digitale era nie,” het Smith gesê. “Dit is ʼn daad van roekeloosheid wat ʼn ernstige tegnologiese kwesbaarheid vir die Verenigde State en die wêreld geskep het.”

Die bedreiging kom van ʼn langdurige kuberaanval waartydens skadelike sagteware glo in rekenaarnetwerke geïnfiltreer is deur middel van netwerksagteware wat deur die IT-onderneming SolarWinds in Texas vervaardig is.

Volgens SolarWinds het tot 18 000 kliënte, waaronder regeringsinstansies en Fortune 500-ondernemings, sagteware-bywerkings afgelaai wat kuberkrakers in staat stel om op e-posse te spioeneer.

James Lewis, visepresident van die Sentrum vir Strategiese en Internasionale Studies, het gesê dié aanval kan uiteindelik een van die ergste nog wees om die Verenigde State te tref.

“Die skaal is skrikwekkend. Ons weet nie wat gevat is nie en dit sal deur forensiese ondersoeke bepaal word,” het Lewis gesê. “Ons weet ook nie wat agtergebly het nie. Die normale gebruik is om iets agter te laat sodat hulle weer in die toekoms kan inkom.”

Amerika se Nasionale Veiligheidsagentskap (NSA) het groter waaksaamheid versoek om ongemagtigde toegang tot belangrike militêre en burgerlike stelsels te voorkom.

Ontleders meen die aanvalle hou ʼn bedreiging in vir nasionale veiligheid deur die infiltrasie van belangrike regeringstelsels, terwyl dit ook risiko’s skep rakende die beheer van belangrike infrastruktuurstelsels soos kragnetwerke en ander nutsdienste.

Die Amerikaanse agentskap vir kuber- en infrastruktuurveiligheid (CISA) het gesê regeringsinstansies, entiteite vir kritieke infrastruktuur en organisasies in die private sektor is geteiken.

CISA het nie bekend gemaak wie vir die aanvalle verantwoordelik is nie, maar private veiligheidsmaatskappye het vinger gewys na kuberkrakers wat met die Russiese regering verbind word.

Volgens CISA het die kuberaanval al in Maart vanjaar begin. “Hierdie bedreiging hou ʼn ernstige risiko in.”

Kuberkrakers het glo skadelike sagteware geïnstalleer op sagteware wat deur die Amerikaanse tesourie en handelsdepartement gebruik word, wat hulle in staat stel om interne e-posverkeer te sien.

Die departement van energie, wat die land se kernarsenaal bestuur, het bevestig dat hy ook geraak word, maar wel die betrokke stelsels van sy netwerk ontkoppel het.

Rusland het enige betrokkenheid ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.