VSA-dokter met ebola is “swak, baie siek”

Dr. Kent Brantly en sy gesin (NBC News) Foto: newslocker.com

Dr. Kent Brantly en sy gesin (NBC News) Foto: newslocker.com

Kent Brantly (33), ʼn dokter van Amerika wat die ebola-virus in Liberië opgedoen het, is “swak en baie siek”, het sy kollega Dinsdag aan AFP gesê.

Brantly is met ebola besmet toe hy pasiënte in Monrovië, die hoofstad van Liberië, behandel het.

Hy en nog een ander gesondheidswerker van Amerika is onder die meer as 1 200 mense wat sedert Maart in Wes-Afrika ebola opgedoen het. Altesaam 672 mense is reeds oorlede.

“Dit gaan nie goed met hom nie,” het David McRay, ʼn algemene praktisyn in Fort Worth, Texas, telefonies aan AFP gesê. “Hy is nog in die vroeë stadium van die infeksie, maar daar is daagliks uitdagings. Hy het versoek dat ek sy simptome nie in besonderhede sal bespreek of sal verduidelik wat hy ervaar nie.”

McRay praat glo daagliks telefonies met Brantly.

Dokters in Monrovië het gesê Brantly is stabiel, maar hy bly in gevaar, aangesien ebola gewoonlik binne dae ná besmetting tot iemand se dood lei.

Simptome van ebola sluit koors, gewrigspyn, diarree, vomering, uitslag en rooi oë in. Helfte van die pasiënte het ook interne en eksterne bloeding. Dit word deur direkte kontak met bloed of liggaamsvloeistowwe oorgedra.

Dit is nog nie duidelik hoe Brantly ebola opgedoen het nie. Sy diagnose is Saterdag deur Samaritan’s Purse, ʼn Christelike liefdadigheidsorganisasie vir wie hy gewerk het, bekend gemaak. Hy het in Oktober as mediese direkteur by die span in Liberië aangesluit en fokus sedert Junie op pasiënte met ebola. Sy vrou en kinders was saam met hom in Monrovië, maar het na Amerika teruggekeer net voordat hy siek geword het. Hulle word nou vir 21 dae lank gemonitor vir koors.

Samaritan’s Purse probeer Brantly na ʼn ander hospitaal, moontlik in Europa, oorplaas. “Dit is egter baie moeilik om iemand met ebola oor internasionale grense te vervoer,” het McRay gesê. “Dit lyk in hierdie stadium onwaarskynlik dat dit sal gebeur, maar ons probeer steeds.”

McRay het bygevoeg Brantly is bewus daarvan dat hy maar net een van baie mense is wat ebola opgedoen het, ondanks die media-aandag wat sy geval, as Amerikaanse dokter, trek. “Hy het medewerkers en kollegas in Liberië wat reeds gesterf het en hy beskou homself nie op enige manier uniek nie.”

Lees ook:
Lugredery skort vlugte op weens ebola-uitbreking
Vierde land meld Ebola-gevalle aan
Ebola-sterftes styg steeds
Ebola-sterftes nou meer as 140
Ebola-virus eis 121
Ebola-uitbreking bevestig

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Ek hoop werklik hy oorwin die aaklige virus, sodat hy saam sy gesin kan wees en sy kinders kan sien grootword.

I Travel ·

Liberie is nie jou prima “holiday destination ” nie . Wat soek hy daar ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.