VSA en bondgenote stel verdere sanksies teen Rusland in  

Pres. Joe Biden (Foto: MANDEL NGAN/AFP)

Washington en sy bondgenote het Vrydag begin om normale handelsbetrekkinge met Rusland te beëindig, met pres. Joe Biden wat onderneem het dat die Weste Wladimir Poetin “die prys sal laat betaal” vir sy inval in Oekraïne.

Biden het die nuwe stap aangekondig wat Westerse nasies in staat sal stel om skerp tariefverhogings op Moskou toe te pas, in samewerking met Navo-bondgenote, die G7 en die Europese Unie.

Amerikaanse wetgewers, wat die laaste sê sou hê, het reeds aangedui dat hulle die stap steun, wat behels dat Rusland van voorkeurstatus gestroop word wat gelyke behandeling tussen internasionale handelsvennote verseker.

Biden het in ʼn toespraak in die Withuis gewaarsku dat Poetin die prys moet betaal as die “aggressor” en gesê die stap sal weerspieël word deur soortgelyke stappe in geallieerde nasies.

G7-leiers het intussen ook bevestig dat hulle sal “poog” om aksie te neem om Rusland sy begunstigde handelstatus te ontsê.

“Die VSA en ons bondgenote en vennote gaan voort om die ekonomiese druk op Poetin te verhoog en Rusland op die wêreldtoneel verder te isoleer,” het Biden gesê.

“Hy kan nie ʼn oorlog voer wat die grondslag van internasionale vrede en stabiliteit bedreig en dan vir hulp van die internasionale gemeenskap vra nie.”

Die sogenaamde bevoordeelde status wat in die VSA bekend staan as permanente normale handelsbetrekkinge, ʼn sleutelbeginsel van die Wêreldhandelsorganisasie, vereis dat lidlande mekaar gelyke tarief- en regulatoriese behandeling waarborg.

Om Moskou van die status, wat in Desember 2012 toegestaan is, te stroop sal vir Biden die mag gee om stewige tariewe op Russiese goedere in te stel of die invoer van sommige produkte te beperk.

Biden het ook ʼn verbod op die invoer van Russiese wodka, diamante en seekos na die VSA aangekondig, terwyl die uitvoer van luukse Amerikaanse goedere na Rusland en Belarus, wat die inval ondersteun het, ook verbied sal word.

Ander sanksies wat reeds ingestel is, sluit in die verbod op Russiese olie-invoer, beslaglegging op bates van miljardêrs wat bande met Poetin het, en die bevriesing van die land se kontantvoorraad.

Dié stappe het veroorsaak dat pryse vir sleutelkommoditeite, soos petrol en koring, die hoogte ingeskiet het en wat Amerikaanse verbruikers, wat reeds deur die hoogste inflasievlak in vier dekades in die gesig gestaar word, benadeel.

Die VSA het verlede jaar net minder as $30 miljard se goedere van Rusland ingevoer, insluitend $17,5 miljard se ru-olie.

Die IMF het Donderdag gesê die oorlog en sanksies sal lei tot ʼn “skerp inkrimping” van die Russiese ekonomie en stadiger globale groei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.