VSA het meer as 20 miljoen poste in April verloor

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Die VSA het in April ongeveer 20,2 miljoen poste verloor, aldus ʼn maandelikse verslag deur ADP, ʼn salarisstaatbestuursmaatskappy.

Die verslag analiseer data tot die 12de van die maand – in ooreenstemming met die metodologie van die departement van arbeid. ADP het gesê dit beteken die getalle reflekteer dus moontlik nie die volle effek van die Covid-19-pandemie op die arbeidsmark nie. Dit is egter die ergste verslag tot dusver.

Nagenoeg 9 miljoen poste het by groot maatskappye (ondernemings met meer as 500 werknemers) verlore gegaan, het ADP gesê. Mediumgrootte maatskappye het 5 miljoen poste gesny en kleiner maatskappye, met minder as 50 werknemers, het 6 miljoen poste verloor.

Werkloosheidsversekeringeise het sedert die middel van Maart ongeveer 30 miljoen gehaal, toe die ekonomie die impak van die koronavirus-uitbreking begin beleef het.

Meer as 16 miljoen poste het in die dienstebedryf verlore gegaan, aldus die verslag. Die vervaardigingsbedryf het 4,2 miljoen poste gesny.

Die verliese kom ten spyte van lenings en toelaagskemas vir ondernemings, bekend as die Payroll Protection Program, wat aanvanklik $350 miljard van die Kongres ontvang het voor wetmakers ʼn bykomende $320 miljard bygevoeg het.

Die departement van arbeid sal na verwagting Vrydag amptelike statistiek bekend maak, alhoewel dit ook net ʼn gedeelte van April se verliese sal aandui.

Die Withuis beraam dat die werkloosheidskoers uiteindelik soortgelyk kan wees as tydens die Groot Depressie, en teen Junie 20% sal haal.

Voor die pandemie was meer as 150 miljoen persone in diens in die VSA.

Meer as 1,2 miljoen mense in die VSA het reeds positief vir die nuwe koronavirus getoets en meer as 72 000 mense het reeds daaraan gesterf.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.