Aartsvyande VSA en Iran het Maandag vyf gevangenes elk van mekaar vrygelaat. Die gevangenes, wat volgens hul onderskeie lande onregmatig in die vreemde aangehou is, is bevry as deel van ʼn ooreenkoms wat insluit dat die VSA $6 miljard van Iranse fondse ontvries.
Die vyf Amerikaners van Iranse afkoms wat as deel van die ooreenkoms deur Iran bevry is, het Maandag uit Teheran gevlieg, ure nadat die vrygestelde geld in rekeninge gedeponeer is wat deur Katar bestuur word.
Die Amerikaners, wat Teheran almal as Iranse burgers beskou, het intussen in Washington geland waar sommige met hul aankoms mediese ondersoeke sou ondergaan.
Dit sluit in Siamak Namazi, ʼn sakeman wat sedert 2015 in Iran aangehou is, asook die wildbewaarder Morad Tahbaz en waagkapitalis Emad Sharqi. Die ander twee verkies om anoniem te bly.
Hulle is beskuldig van spioenasie of ander misdade waarby hulle hul betrokkenheid ten sterkste verwerp.
Namazi se ma en Sharqi se vrou, wat nie in die tronk was nie, maar tot nou toe nie toegelaat is om Iran te verlaat nie, het intussen ook in die VSA aangekom.
Twee van die Iranse gevangenes wat in die VSA aangehou is, het sedertdien na Teheran teruggekeer nadat hulle via Doha daarheen gereis het. Die ander drie vrygelate Iranse gevangenes het gekies om in die VSA te bly of hulle in ʼn heeltemal ander land te vestig.
Die gevangenes is glo almal van nie-gewelddadige misdade aangekla of daaraan skuldig bevind.
Die samesprekings tussen die Amerikaners en Iraniërs is deels deur Katar gelei en stil-stil voltooi ná die oordrag van die fondse wat deur die Amerikaanse bondgenoot Suid-Korea bevries is.
Iran het dié fondse deur olieverkope tot stand gebring. Suid-Korea het egter die fondse bevries nadat oudpres. Donald Trump hom onttrek het aan ʼn kernkragooreenkoms en Amerikaanse sanksies teen die aankoop van olie van Iran ingestel het.
“Dankie, pres. Biden, dat jy uiteindelik die lewe van Amerikaanse burgers bo politiek gestel het,” het Namazi in ʼn verklaring gesê.
Biden se Republikeinse teenstanders veroordeel egter die ooreenkoms wat hy met die Iranse regering aangegaan het. Die Republikeinse senator Mitt Romney sê die ooreenkoms gaan tot “ontvoerings” lei.
“Die idee om basies te betaal om ʼn gyselaar vry te laat, is ʼn verskriklike gedagte,” sê Romney.
Biden se administrasie ontken egter dat hy ʼn “losprys” vir die vyf Amerikaners betaal het en dring daarop aan dat die $6 miljard slegs vir humanitêre doeleindes gebruik sal word. Indien nie, sal dit weer bevries word, sê sy administrasie.
Iran het egter ander planne met die geld.
Die Iranse president, Ebrahim Raisi, sê die geld wat “tot nou toe wreed versper is en tans in die besit van die Islamitiese republiek is, behoort aan die mense [van Iran] en ons sal dit gebruik om in die mense se behoeftes te voorsien”.
Die president van Iran se sentrale bank, Mohammadreza Farzin, het intussen gesê Teheran sal skadevergoeding van Suid-Korea eis vir die vertraging en die vermindering in waarde van die fondse.
En wat doen ons minister…. ons het self dan 3 manne wat onlangs op MM oor geskryf is wat ook onder vals beskuldigings oorsee aangehou word teen’n losprys. Wanneer bring SA hulle huistoe?
Ek glo wanneer Pres Trump terug is en Biden in die ouetehuis sal daar nie meer onderhandel word met terroriste nie.