VSA keur anti-Covid-19-pil goed

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: James Yarema/Unsplash)

Die VSA het vandeesweek Pfizer se teenvirale-Covid-19-pil vir hoërisikomense van 12 jaar en ouer goedgekeur.

Intussen het Brittanje ook ingestem dat kinders tussen vyf en 11 jaar oud teen die virus ingeënt kan word.

Dit volg nadat ʼn oplewing van meer as 100 000 koronavirusgevalle per dag in albei lande aangeteken is. Hierdie golf nuwe gevalle word deur die hoogs aansteeklike Omikron-variant gedryf.

Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het Woensdag aangekondig dat hy Paxlovid, wat uit twee soorte tablette bestaan, vir gebruik goedgekeur het.

ʼn Kliniese proefneming wat onlangs deur Pfizer gedoen is, toon dat hierdie pil die risiko van hospitaalopname en sterftes onder diegene wat veral vatbaar vir die virus is met 88% verminder.

“Hierdie besluit is ʼn bewys van die mag van wetenskap en ʼn resultaat van Amerikaanse innovering en vindingrykheid,” het pres. Joe Biden gesê. Hy het terselfdertyd belowe om wetgewing in te stel wat Pfizer sal help om die produksie van dié pil te verhoog.

Die VSA het reeds $5,3 miljard (meer as R80 miljard) bestee aan die verkryging van 10 miljoen besendings Paxlovid. Die eerste 265 000 hiervan sal in Januarie afgelewer word, terwyl die res teen middel volgende jaar in die land beskikbaar sal wees.

Die FDA het egter beklemtoon dat Paxlovid eerder inentings teen Covid-19 moet aanvul as vervang, aangesien entstowwe steeds aan die voorpunt van die stryd teen die virus bly.

Ongeveer 150 000 Amerikaners toets daagliks positief vir Covid-19, met ʼn gemiddeld van 7 800 hospitaalopnames en 1 200 Covid-19-verwante sterftes, sê die sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC).

Rochelle Walensky, direkteur van die CDC, het gesê die hoogs gemuteerde Omikron-variant is verantwoordelik vir 90% van alle gevalle in sommige Amerikaanse streke.

Omikron is beter in staat om die immuniteit wat mense voorheen teen die virus opgebou het, te omseil, maar anders as entstowwe teiken Pfizer se teenvirale Covid-19-pil nie die ontwikkelende stekelproteïen van die virus wat normaalweg gebruik word om selle binne te val nie.

Volgens Pfizer behoort Paxlovid dus teoreties meer variantbestand te wees en steun voorlopige laboratoriumstudies tot dusver hierdie hipotese.

Inenting vir kinders ‘veilig, doeltreffend’

Brittanje se reguleringsagentskap vir medisyne en gesondheidsorgprodukte (MHRA) het intussen aangekondig dat hy ʼn “veilige en doeltreffende” laer-dosis-formulering van Pfizer se Covid-19-entstof vir kinders tussen vyf en 11 jaar oud goedgekeur het.

June Raine, uitvoerende hoof van MHRA, sê daar is stawende bewyse dat dié nuwe dosis ʼn positiewe voordeel vir kinders in dié ouderdomsgroep inhou.

Engeland hou by bestaande beperkings

Ondanks die oplewing van nuwe gevalle weier die Britse premier, Boris Johnson, om strenger reëls vir Engeland oor Kersfees in te stel.

Groepe wat in kroeë, restaurante en teaters in Wallis oor die feestyd bymekaar wil kom, word reeds beperk, terwyl Noord-Ierland nagklubs om 20:00 sal sluit.

Hierdie beperkings volg nadat Skotland Dinsdag hernude reëls aangekondig het, wat op 26 Desember vir minstens drie weke in werking sal tree. Onder meer sal die bywoning van buitelugbyeenkomste hiér tot 500 mense beperk word.

Johnson het egter gesê hy wil eers meer bewyse inwin oor die Omikron-variant se erns en vermoë om entstowwe vry te spring voordat nuwe maatreëls bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.