VSA keur reusesteunpakket vir Oekraïne, Israel goed

(Foto: Nathan Howard / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Saterdag ʼn massiewe steunpakket van $95 miljard goedgekeur wat militêre hulp aan Oekraïne, Israel en Taiwan sal bied.

Vier wetgewings in dié verband is gister oorweldigend vinnig na mekaar (met die steun van Demokrate én Republikeine) in die huis goedgekeur. Die steun van $61 miljard aan Oekraïne het binne ʼn kwessie van minute geslaag. Dit nadat dié stemming maande lank deur Republikeine uitgestel is.

Al 210 Demokrate het ten gunste van die hulppakket aan Oekraïne gestem. Meer Republikeine was egter teen dié wetgewing gekant as ten gunste daarvan, 112 teen 101.

Die wetgewende hulppakket van $95 miljard behels egter nie net militêre steun aan Oekraïne nie maar ook vir Israel ($26 miljard); Amerikaanse bondgenote in die Indo-Stille Oseaan-streek waaronder Taiwan ($8 miljard) én $9 miljard in humanitêre bystand vir burgerlikes in oorlogsones soos Haïti, Soedan en Gaza.

Pres. Joe Biden het in reaksie op die stemming gesê die wetgewing sal “kritiese ondersteuning aan Israel en Oekraïne lewer; broodnodige humanitêre hulp aan Gazsa, Soedan, Haïti en ander plekke verskaf … en veiligheid en stabiliteit in die Indo-Stille Oseaan versterk.”

Die Amerikaanse president het Saterdag die betrokke wetgewers geprys wat tydens die stemming oor partygrense bymekaargekom het “om te antwoord op die geskiedenis se oproep”.

Ondersteuners in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het gejuig en Oekraïense vlae geswaai toe daar aangekondig is dat die hulppakket goedgekeur is.

Marc Molinaro, voorsitter van die huis, het egter vir orde gevra en gesê vlagswaaiery is nie gepas nie.

Die wetgewing sal nou na die senaat gaan, wat dit so gou as Dinsdag kan deurvoer. Dit sal dan na Biden deurgegee word wat onderneem het om dit onmiddellik te onderteken.

“Ek hoop dat ons dit alles so gou moontlik kan afhandel sodat ons vinnig wapens en toerusting na Oekraïne kan stuur om in hul dringende behoeftes op die slagveld te voorsien,” het Biden Saterdag gesê.

Oekraïne se pres. Volodimir Zelensky het die $61 miljard wat vir sy land geoormerk is verwelkom en gesê die militêre en ekonomiese bystand sal “duisende en duisende lewens red”.

Rusland is uiteraard nie beïndruk met dié verwikkelinge nie.

“Dit sal die VSA verder verryk en Oekraïne selfs meer ruïneer en lei tot die dood van meer Oekraïners,” het Dmitri Peskov, presidensiële woordvoerder, gesê.

Israeliese premier Benjamin Netanyahu het die wetsontwerp verwelkom. Netanyahu sê dit demonstreer “sterk tweeparty-steun vir Israel” en verdedig die Westerse beskawing.

Die Palestynse presidensie het egter die hulppakket veroordeel en dit bestempel as “aggressie teen die Palestynse volk” en ʼn “gevaarlike eskalasie”.

Nabil Abu Rudeina, woordvoerder van die Palestynse pres. Mahmud Abbas, sê die geld gaan duisende Palestyne in die Gasastrook en die Wesoewer se dood beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Martie Smartie ·

Nou toe, daars genoeg geld nou om Poetin te laat elimineer.

Grassie ·

Okraïne kry wapens maar nie manskappe nie. Vroeër of later gaan hul soldate opraak. Geen land het nog ooit ‘n oorlog teen Rusland gewen nie. Dit gaan gewoonlik goed in die begin maar mettertyd begin die aanvallers uitrafel soos met die Duitsers in WO 2 gebeur het. Die beste uitkoms vir Okraïne is om van daardie kaartmannetjie van hul ontslae te raak en ‘n kompromie met Rusland aan te gaan al moet hulle ‘n deel van hul grondgebied afstaan.

Gaitsigubib ·

Martie, niks is seker onmoontlik nie. Die probleem met die jou scenario is dat jy nie verder dink as dit nie. Jy herinner my aan die plattelandse duitsers wat geglo het dat WW2 verby was met FDR se afsterwe. As hul Putin vermoor het jy dalk n persoon in sy plek wat nie sal huiwer om kernwapens te gebruik nie. Mens moet eerder hoop dat daar n persoon in die VSA aan beheer kom wat n einde wil bring aan die konflik, eerder as om dit aan te stook.

Gaitsigubib ·

Jy is in die kol met jou kommentaar Grassie. Die kaartmannejie gaan egter nie wil luister nie, want hy skep met elke kan melk wat hy ontvang, eers al die room af. Dis n skreiende skande dat die hoofstroom media niks tese het oor sy persoonlike rykdom nie. Hy is die rede dat sy land nooit deel kon word van NATO- hulle was te korrup!

Pieter ·

@Grassie Oorloë wat Rusland verloor het:
1. Eerste Tsjetsjeense Oorlog (1994)
2. Afghaanse Oorlog (1979-1989)
Alles sedert 2008 is nog aan die gang, ons sal maar moet sien of die lys gaan uitbrei. Ek moet se hulle is nogal betrokke in baie konflikte vir so ‘n vredeliewende land.

Republikein in die Wes Kaap ·

Pieter, die Sowjet-Unie was in Afghanistan. Dit sluit Oekraïne in. Tsjenië is steeds deel van die Russiese federasie. Die rebelle ook.

Pieter ·

@Republikein Sure as jy penanties wil wees kan jy maar. Maar dan tel nog die Sowjet Unie nog die Russiese Ryk. Moderne Rusland het wel teen ‘n klomp Tjegiese rebelle in die suide verloor. Sewe jaar later toe hulle weer probeer het hulle wel gewen maar die eerste een het hulle oortuigend verloor.

Maar ek dink nie dis die punt wat @Grassie wou maak nie. Hy verwys baie duidelik na WO 2 en toe het die Sowjetunie ook reeds bestaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.