VSA maak stem dik oor Chinese steun vir Rusland

‘n Betoger onderbreek ’n regstreekse nuusuitsending in Rusland. (Foto: Twitter)

Die VSA sê hy sal nie toelaat dat China die Russe vergoed vir die verliese wat die land gely het sedert hy Oekraïne verlede maand binnegeval het nie.

“Ons is diep bekommerd oor China se belyning met Rusland,” het ʼn senior Amerikaanse amptenaar gesê nadat Amerikaanse en Chinese hooggeplaastes Maandag sewe uur lank vergader het oor die voortslepende konflik in Oekraïne.

“Dit was ʼn openhartige gesprek,” het die amptenaar op voorwaarde van anonimiteit gesê.

Die vergadering is glo reeds geruime tyd gelede gereël, maar volg kort nadat Amerikaanse media berig het dat Rusland sy bondgenoot China gevra het vir militêre en ekonomiese bystand. Die land se troepe sukkel om vordering in Oekraïne te maak terwyl verwoesting sy ekonomie weens Westerse sanksies in die gesig staar.

Volgens The New York Times is daar nog geen aanduiding of China gereageer het op Rusland se versoek nie.

Die Withuis plaas wel nou druk op China om hom daarvan te weerhou om Rusland by te staan.

“Ons het baie duidelik aan Beijing gekommunikeer dat ons dit nie sal duld nie,” sê Ned Price, woordvoerder van die departement van buitelandse sake. “Ons sal nie toelaat dat enige land Rusland vir sy verliese vergoed nie.”

Betoger onderbreek Russiese nuusuitsending

’n Vrou wat werk as redakteur by die streng beheerde Russiese staatsuitsaaier Channel One is in aanhouding nadat sy Maandagaand ’n regstreekse nuusuitsending onderbreek het om Rusland se inval van Oekraïne te veroordeel.

Marina Ovsyannikova het tydens Rusland se aandnuusuitsending ʼn plakkaat wat onder meer lui “Geen oorlog” omhoog gehou terwyl sy geskree het: “Stop die oorlog!”

Dié vlagskip-nuusprogram genaamd Time word sedert die Sowjet-era uitgesaai en miljoene mense landwyd, veral ouer Russe, kyk getrou daarna.

Die nuusleser het ondanks die onderbreking probeer voortgaan en die aand se nuus oor betrekkinge met Belarus bloot harder voorgelees voordat die uitsending inderhaas na beeldmateriaal van ’n hospitaal oorgeskakel het.

Channel One het ná die voorval gesê ’n interne ondersoek word gedoen. Ovsyannikova kan nou moontlik aangekla word ingevolge Russiese wetgewing wat openbare optrede verbied wat daarop gemik is om “die gebruik van Rusland se gewapende magte te diskrediteer”.

Aanval op televisietoring eis 9; stryd om Kiëf duur voort

Nege mense is intussen dood en nog nege beseer nadat Russiese magte ʼn televisietoring buite die Wes-Oekraïense stad Rivne geteiken het.

Twee vuurpyle het die toring Maandagoggend vroeg getref.

Rivne is ongeveer 200 km noordoos van Lviv geleë. Dié stad is naby die grens met Pole en het ʼn deurgangspunt geword vir baie Oekraïners wat landuit vlug.

Die stryd om die hoofstad Kiëf duur intussen voort. Die stad is in dié stadium byna omsingel deur Russiese troepe met minstens drie kragtige ontploffings wat Dinsdagoggend in die stadskern gehoor is.

Minstens twee mense is Maandag in ontploffings in Kiëf dood.

Nóg ’n rondte hoëvlakgesprekke tussen Rusland en Oekraïne sal Dinsdag plaasvind nadat gesprekke Maandag tydelik gestaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Putin moet uit die weg geruim word. Hy krap nou aan WW3.

VaalDonkie ·

Hoe durf hy sy land so naby al die Amerikaanse weermagbasisse bou!

HJvdb ·

Nee…die UN krap nou aan WW3. Rusland het al 7-jaar terug die UN gewaarsku oor hul uitbreiding nader aan Rusland se grense en het spesifiek gese dat Rusland die trepp trek voor Ukraine. Wat doen die UN toe? begin onderhandelinge om Ukraine ook deel te maak van die UN….. nou neem Rualand Ukraine oor en hou die grens waarop die UN na die 2de Wereld oorlog ooreengekom het waar hy moet wees.

Hennie Biebouw ·

Ek dink jy bedoel NATO / NAVO, nie die UN (VN) nie….Maar ja, jy is reg. Hierdie was ‘n totale voorkombare konflik. Snaaks hoe vinnig mense die VSA se reaksie tydens die Kuba – missiel krisis vergeet. Selle ding hier, skoen is net aan ‘n ander voet.

Marthinus W ·

Is Amerika nou die de facto wereldleier? Beteken die VN dan nog iets? Wie gee Amerika die reg om te besluit wat met ander lande gebeur? Waarom word Amerika nie gestraf vir die miljoene dooies wat hulle sedert 1945 laat begrawe het nie?

VaalDonkie ·

Die VSA wil tog so graag nog ‘n oorlog begin sodat hulle nog geld en lewens kan verloor

Janee ·

En dan 20 jaar veg waarin miljoene gesterf het, en oornag padgee…..

Hennie Biebouw ·

In die geval, nie die “VSA” nie, maar meer spesifiek die Demokrate. Kyk maar wie is voor in die koor om konflik aan te blaas. Niemand anders as onse Hillary Clinton nie…..hul beslou dié konflik as hul nuwe Afghanistan.

VaalDonkie ·

Die “Neocons” in die republikeine ook. Veral die ou ooms wat nie self hoef te veg nie en wie se seuns al te oud is om opgekommandeer te word.

My vriende in die VSA (van Alabama, Texas, Kentucky, Florida, ens) wil wel niks met dit te doen he nie. Hulle dink Oekraine het poefies gesoek en toe gekry.

Henning ·

En nou moet China skrik. Die VSA skuld China meer as 1.1 trijoen USD

Misky ·

Biden moet eerder sy neus uit ander se sake hou. China kan sy steun gee aan wie hy wil en absoluut niks met VSA te doen nie.

Colin ·

En nèt so kan die Ukraïne besluit of hy aan NATO, EU of die local golf klub wil behoort.

Andre ·

Umkraïne ja, maar nie die geldmag wat hom oorgeneem het nie.

Colin ·

Well done aan daai vrou wat haar plakkaat op regstreekse nuus rondgeswaai het. Sy staar nou 15 jaar in die gesig deur te gedoen het wat sy as reg beslou het. Ek wens ander nuus en media stasies se mense wil ook so bietjie die waarheid uitsaai en nie net ‘n klomp sensasie nie.

Janee ·

Amerika…..meer bek as enigiets anders. Ongelukkig is die wêreld bang vir Rusland…wat nog as China begin naderstaan….

E ·

China kan dalk vr Rusland kos en klere en sy swak gemaakte speelgoed gee/skenk/verkoop, maar laat ek jou se China sal baie dom wees om Rusland wapens te gee. As my buurman so gek optree gee ek definitief nie vir hom WAPENS nie. More besluit hy om my eie wapens teen my te gebruik. Verder kan China nie eers hulle eie bevolking voer nie en het die res van die wereld nodig om kos te voorsien. China dink hy is so sterk.

annie ·

Ag ja. Die VSA en al die Westerse lande mag teen Rusland veg net nie met Rusland en Sjina wat saamstaan nie. Die siek siening van die Weste skyn duidelik uit die feit dat die VSA vir Sirië kan platskiet oor die chemiese labs in sy midde maar dis okei as Oekraïene bio-wapens vervaardig. Leer Israel nooit. Die DA gaan ook die slegte nagevolge voel van sy oorbetrokkenheid by die verre oorlog.

Hennie Biebouw ·

Die Biden -Administrasie se “stem dikmaak” en die omkyk van ‘n klein hondjie is maar dieselle ding…

Andrew ·

Dalk daaraan gedink het voor hulle uraan by Chinoble begin myn het, die ou russie biolabs oorgevat en bedryf het , ingemeng het met Okraine se politiek deur korrupte westerse politisie soos die Biden dynasty. Sien jy Victoria en Napoleon in n goeie of n slegte lig?

Kokerboom ·

Die beste stuurlui staan ALTYD aan wal!!!Politiek is siek verby. Intussen sterf onskuldige mense!
Wat verhoed moondhede om vreedsaam langs mekaar te bestaan? Magsbehepte gevoellose wereldleiers wat ly aan vevolgingswaansin!!!
Mag GOD hieraan ‘n einde bring en vrede gee!!

Anna-marie ·

Die bloed is aan die hande van Amerika, Nato en Zelensky. Terloops, het jy geweet die Amerikaners het vir Zelensky ‘n peperduur huis in Florida (VSA) gegee en sy bankrekening gelaai. Het jy ook geweet Biden, Nancy Pelosy, Kerry en ander Demokratiese leiers se kinders het hoogs betalende poste in die Oekranie. Het jy ook geweet die Amerikaners het ‘n wettig verkose regering in Oekraiene gehelp omverwerp in 2014.

Colin ·

Klink soos ‘n Chappie papiertjie van destyds se “Het jy geweet…”

Human ·

Wie het gesê hy is President? Maar daar word snot en trane oor hom gehuil, deur sommige Trotse Afrikaners.

Pietertjie ·

Gogga maak vir baba bang. Byna alle Amerikaanse produkte word in China vervaardig. As China net vir een oomblik gaan toeknyp, gaan VSA vir baie lank in die donker sit.

Marthinus W ·

Amerika het uraan, maar Rusland kan dit goedkoper verskaf. Daar is n uitsluitingsklosule in die sanksies dat Rusland nie moet (mag) ophou om uraan te verskaf nie, want dit word gebruik om die ligte in Amerika aan te hou.

Waarnemer ·

Ek lees nou die kommentaar hier en dit wil mos vir my voorkom of 90% van hierdie kommentators pro Russies is.Wat gaan met julle aan?Daar is derduisende mense ontwortel in die Oekraine,duisende soldate en burgerlikes sterf agv een man se siek brein om wereld oorheersing…en dan wil julle dit goed praat dat China ook nog die Rysse moet bystaan!!!Ek sien n 3de wereld oorlog is op hande die oomblik wat China Rusland help.

Dirk ·

Dit is wat ek ook sê. Ek is verstom en kry skaam dat hier so ‘n klomp Suid Afrikaaners vir Putin en sy weermag ondersteun. Dat hulle ‘n man ondersteun wat hospitale met kinders en swanger vrouens aanval. Hulle het duidelik vergeet van die grens oorlog en waar die ANC hulle opleiding gekry.

Marthinus W ·

Jou vraag is geregverdig, en belangrik.

1] Die rede waarom ek pro-Russies is, is omdat ek my nie blind staar in die oorlog nie. Jy moet holisties kyk (m.a.w. sien die groter geheel; die big picture). Ek het n redelike idee [wil nie maak of ek alles weet nie] wat die afgelope 20 jaar tussen Rusland en Oekraine gebeur het, en die ooglopende bewyse is dat Amerika, Navo, die neocons wereldwyd, die globaliste [soos Klaus Schwab van Switserland] en neo-nazi en verregses [wat die hoofstroommedia nie wil wys nie] betrokke is, en Oekraine misbruik om Rusland vas te druk [die politieke term is “containment”] sodat Amerika die alleenheerser kan wees; sodat daar nie sterk lande, soos Rusland en nou China, kan opstaan en hulle aanvat vir hulle vergrype nie. [Lees bv William Blum se boeke]

2] Poetin is nie siek of mal, of het delusies van “grandeur’ nie. Hy is n realis, n pragmatis.

Mercia ·

Ek dink Marthinus het jou aantygings oor sogenaamde Russiese “simpatie” baie mooi aangespreek en weerlê. Daar is min mense met wie jy sal praat wat enigsins sal sê dat oorlog op enige dag ‘n goeie ding is en bitter min mense wat nie opregte meegevoel sal hê met die slagoffers van oorlog nie…….maar om vir een oomblik jouself te verbeel dat Putin een dag net wakker geword het en ‘n gier vir oorlog ontwikkel het is naief. Hier is sóveel meer rolspelers en agendas agter hierdie oorlog as wat ons gewone outjies besef. Daar was en is en sal tot aan die einde van hierdie lewe ‘n tweestryd wees om mag en geld. En díe werklike argitekte en begunstigdes van hierdie chaos en verwoesting se gesigte sal jy nie op hoofstroom media sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.