VSA, Microsoft maan oor kuberkrakers wat ‘kritieke’ infrastruktuur teiken

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Suriyawut/Vecteezy)

Die VSA, sy Westerse bondgenote en Microsoft het Woensdag gewaarsku dat Chinese kuberkrakers kritieke Amerikaanse infrastruktuurnetwerke geïnfiltreer het.

Die kuberkrakers word glo deur die Chinese regering ondersteun en die VSA maan dat soortgelyke kuberaanvalle wêreldwyd kan plaasvind.

Microsoft het Guam in die Stille Oseaan, wat deel vorm van Amerikaanse grondgebied, Woensdag as een van die teikens uitgelig. Die VSA het strategiese weermagbasisse in die streek. Volgens Microsoft is nog “kwaadwillige” bedrywighede egter ook elders in die VSA opgemerk.

Die kuberaanval is na bewering die werk van ʼn rolspeler wat Volt Typhoon gedoop is. Die aanval word al sedert 2021 geloods, maak langtermynspioenasie moontlik en is waarskynlik daarop gemik om die VSA te kniehalter sou daar ooit konflik in die gebied uitbreek.

Die Chinese regering steun Volt Typhoon glo.

“Microsoft kan met ʼn mate van vertroue sê dat die Volt Typhoon-veldtog daarop gemik is om vaardighede te ontwikkel wat kritieke kommunikasie-infrastruktuur tussen die VSA en Asië tydens toekomstige krisisse kan ontwrig,” het Microsoft in ʼn verklaring gesê.

“Hierdie veldtog [kuberaanval] het organisasies oor die kommunikasie-, vervaardiging-, nutsdiens-, vervoer-, konstruksie-, maritieme, regering-, inligtingstegnologie- en onderwyssektor geraak.”

Microsoft se verklaring het saamgeval met kennisgewings deur die Amerikaanse, Australiese, Kanadese, Nieu-Seelandse en Britse owerhede wat waarsku dat soortgelyke kuberaanvalle waarskynlik wêreldwyd plaasvind.

“Dit raak netwerke oor belangrike Amerikaanse infrastruktuursektore heen en daar word vermoed dat dieselfde tegnieke teen hierdie en ander sektore wêreldwyd toegepas kan word,” het die kennisgewings gelui.

China ontken bewerings dat hy betrokke is en Microsoft se verslag as “uiters onprofessioneel” en “spoeg-en-plak-werk” bestempel. Mao Ning, woordvoerder van die Chinese departement van binnelandse sake, sê dit is ʼn “disinformasieveldtog” deur koalisievennote wat die VSA dryf en vir eie geopolitieke gewin gedoen word.

“Die deelname van sekere maatskappye wys dat, afgesien van regeringsorganisasies, die VSA nuwe kanale vir die verspreiding van disinformasie uitbrei.”

Aanvalle kan groot skade berokken

Microsoft en die veiligheidsagentskappe het intussen riglyne vir organisasies gegee om die moontlike kuberaanval op te spoor en te beveg.

“Hierdie is wat ek ʼn lae en stadige kuberaktiwiteit sou noem,” sê Alastair MacGibbon, hoofstrategiebeampte by Australië se CyberCX en ʼn voormalige hoof van die Australiese kuberveiligheidsentrum.

“Dit [die aanval] is soos iemand wat ʼn kamoefleerbaadjie en ʼn skerpskuttergeweer dra. Jy sien hulle nie, maar hulle is daar.”

MacGibbon sê dit kan werklik “katastrofiese skade” aanrig wanneer iemand sy tyd neem om die stelsels te infiltreer.

“As hulle eers binne is, kan die kuberaanvallers inligting steel, maar dit gee hulle ook die vermoë om in ʼn latere stadium vernietigende dade uit te voer [sonder dat dit ooglopend is].”

Robert Potter, medestigter van die Australiese kuberveiligheidsfirma Internet 2.0, sê verskeie ander lande het soortgelyke aktiwiteite opgemerk sedert die waarskuwing oor Volt Typhoon uitgereik is.

“Ek is nie seker hoe kommunikasie-infrastruktuur deur hierdie aanvalle in gevaar sou wees nie, want daardie netwerke is hoogs veerkragtig en moeilik om af te breek,” sê Potter.

“Maar die voortdurende bedreiging van China-gebaseerde APT-groepe is egter ʼn werklikheid.”

Jen Easterly, direkteur van die Amerikaanse agentskap vir kuberveiligheid en infrastruktuur, beweer China steel al jare lank intellektuele eiendom en data wêreldwyd.

“Vandag se waarskuwing, saam met ons plaaslike en internasionale vennote se waarnemings, weerspieël hoe China hoogs gesofistikeerde middele gebruik om ons land se kritieke infrastruktuur te teiken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Met Elon Musk wat beweer dat AI die slimste mens op aarde se vermoe verbygesteek het kan mens verwag dat daar nog baie sulke voorvalle gaan plaasvind. Wat egter vreemd id dat Waren Buffet (Bil Gates se mentor) ‘n aantal jare die voorspelling gemaak het. In die 2010 Rockefellers se “Scenarios for the Future of Technology and International Development” het hul die pandemie voorspel asook die “Hack Attacks” – dit kan die voorloper wees van beheer oor toegang tot internet deur Digitale ID’s. As hul jou toegang kan verivieer kan hul keer dat jy ‘n “Cyber Attack” kan uitvoer – Regte George Orwell 1984 planne.

Jan ·

Hoekom betaal hulle nie die Kommunistiese Chinese in eie munt terug nie. Bring hulle op hulle kniee, die swernote!!!. Laat hulle ween en tande kners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.