VSA-oproep vir skietstilstand in Gaza verwelkom

(Foto: Robin Utrecht / ANP/AFP)

Internasionale bemiddelaars en Hamas-afgevaardigdes was Dinsdag in Kaïro vir samesprekings oor ʼn moontlike skietstilstand in Gaza in aanloop tot Ramadan, die maand waartydens Moslems van sonop tot sononder vas.

Verteenwoordigers van die Palestynse militante groep en die VSA sal na verwagting met Katarese en Egiptiese bemiddelaars vergader vir ’n derde dag van onderhandelinge oor ’n skietstilstand van ses weke, die vrylating van talle oorblywende gyselaars in ruil vir die vrylating van Palestynse gevangenes én humanitêre hulp aan Gaza.

Afgevaardigdes van Israel het tot dusver nie tot onderhandelinge toegetree nie, ondanks toenemende diplomatieke druk om voor Ramadan halt op aanvalle te roep.

Israeliese media berig dat dié land se bemiddelaars samesprekings geboikot het nadat Hamas versuim het om ’n lys van lewende Israeliese gyselaars te verskaf.

Senior Hamas-leier Basem Naim het egter aan AFP gesê dat geen besonderhede oor Israeliese gyselaars in enige dokumente of voorstelle verskyn het wat tydens die onderhandelingsproses gesirkuleer is nie.

Israel glo 130 van die 250 Israeliese gyselaars wat in Oktober verlede jaar deur Hamas gevangene geneem is, word steeds in Gaza aangehou, maar dat 31 doodgemaak is.

Namate toestande in die beleërde Palestynse gebied versleg en hongersnood toeneem, loop Israel ook al meer onder skerp kritiek van sy jare lange bondgenoot, die VSA, deur.

Visepresident Kamala Harris het Maandag tydens samesprekings met Benny Gantz, Israeliese oorlogskabinetslid, gesê sy is “diep bekommerd oor humanitêre toestande in Gaza”.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het terselfdertyd gesê dat lede van ʼn hulpsending na twee hospitale in Gaza op afgryslike tonele afgekom het waar kinders van honger gesterf het.

“Die gebrek aan kos het tot die dood van tien kinders gelei,” het WGO-hoof, Tedros Adhanom Ghebreyesus, gesê nadat die agentskap die Al-Awda- en Kamal Adwan-hospitaal die naweek besoek het.

Maroela Media het vroeër berig dat perde al onder meer geslag moes word om kinders by die Jabalia-vlugtelingskamp in die noorde van Gaza kos te gee.

Armoede weens hoë werkloosheid is ook lankal reeds ʼn reuseprobleem vir die meer as 100 000 mense daar.

Nou is die kos besig om op te raak en weens voortgesette bomaanvalle en die waansinnige plundering van die enkele vragmotors wat die gebied probeer binnekom, is noodlenigingsgroepe se hande afgekap.

Unicef, die VN se kinderagentskap, het gewaarsku die kommerwekkende gebrek aan kos, stygende wanvoeding en siektes kan tot ʼn “ontploffing” in kindersterftes in Gaza lei.

Een uit elke ses kinders jonger as twee in Gaza is akuut ondervoed, was die raming teen die middel van Februarie. Inwoners eet nou afvalstukkies verrotte mielies, dierevoer wat ongeskik vir menslike gebruik is, en selfs blare om die ergste hongerpyne te stil.

Hamas het sy aanvalle van 7 Oktober op Israel verdedig, maar terselfdertyd ʼn beroep gedoen vir ʼn einde aan “Israeliese aggressie” in Gaza.

Luidens die jongste syfers is 30 534 mense al in die oorlog in Gaza dood, van wie die meeste vroue en kinders is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

WitBlits ·

Die Wiskunde is mos maklik…. Hamas, julle het eerste Isreal ingeval en gyselaars geneem. Israel soek hulle gyselaars terug. Julle weier om dit te doen, maar julle wil vra vir ‘n skietstilstand. Gee die gyselaars terug, dan is daar dalk ‘n kans vir ‘n skietstilstand. Weier om dit te doen – Is dit soos die spreekwoord se – as jy nie wil hoor nie, moet jy voel.

Hussin ·

Nie ‘n gewilde gedagte nie, en dit mag dalk nie geplaas word nie, maar hier gaan hy.
Benjamin Netanyahu was op die punt om sy posisie as eerste Minister te verloor.
Israel is een van die bes bewaakte lande in die wêreld. Ook, dit is bitter klein. Jy kan jou nie draai nie of jy loop jou vas in ‘n swaar gewapende lid van IDF. Oral in die land.
Die plek word gemonitor in elke uithoek, satelliet kameras oral ens.
Hoe was dit moontlik vir Hamas om ‘n aanval te loods, vir 6 ure daarmee voort te gaan en lewendig uit te saai sonder enige reaksie van IDF.
Iets is nie reg nie… maak die somme.

Marous ·

Gaan hulle ophou om Israel aan te val ? Nee , hulle sal nie. Hul pyn is self toegedien . Hulle moes aan die gevolge van hul optrede gedink het toe hulle moordenaars en verkragters in bevel geplaas het .

Mieke ·

Terwyl Hamas vir Israel op hulle geweide dag (Simchat Torah) aangeval het, verwag hulle nou dat Israel hulle Ramadan moet respekteer?

Marthinus W ·

Die Palestynse owerheid het Rusland verlede week gevra om toe te tree, en in Amerika loop protesdeerders met plakkate dat hulle in November [met Amerika se verkiesing] Biden gaan laat weet hoe hulle voel. Die Withuis is dus onder druk.

Hussin, jy is reg; ook, is daar n onderhoud tussen Christiane Amanpour en Israel se gewese premier, waarin hy erken dat Israel van die tonnels in Gaza gebou het, weens n beperkte spasie bogronds. Amanpour was nogal geruk deur die erkenning, en het hom gevra om sy stelling te herhaal.

Ina ·

Wie moet die skuld kry vir honger kinders (en volwassenes)?
Die terroris Yahay Sinwar, want al die kos beland in die tonnels en ook die fondse wat vir Gasa moet gaan . So hamas trawante van Yahya Sinwar is vir hongersnood verantwoordelik. Israel ons staan agter julle, roei hulle uit.

MARTIE ·

As Hamas op veg is daar dadelik vrede, as Israel egter ophou veg word hulle geheel en al uitgewis.

piet ·

Dis ‘n bevrydingstryd vir die Palestyne. Soos dit was in SA met die dood van Apartheid sal hulle uiteindelik hul bevryding kry. Jy kan nie geregtigheid vir altyd onderdruk nie. Israel is baie vinnig oppad om die opperste muishond van die wereld te word want baie se oe het intussen oopgegaan. In Israel self is die opposisie besig om op te bou teen die regering.

Gaitsigubib ·

Marthinus, mens word aangeval en bevraagteken as jy na daardie onderhoud verwys. Die tonnels dateer baie eeue terug. Dit kom al van die tyd van die kruisvaders en selfs voor dit. Een of ander persoon het besluit dat dit die terroriste is wat die tonnels gegrawe het, om Israel aan te val en die waarheid wil hulle eintlik nie bespreek nie. In hierdie konflik ( waar Afrikaners nie eintlik vriende aan enige kant het nie) is feite blykbaar nie belangrik nie.

Aggie ·

As ek die Bybel reg verstaan leef ons in die absolute eindtye. Onthou Israel is God se uitverkore volk. Jesus is ook gebore as ‘n nasaat uit die geslag van Dawid. Sal God dan Sy volk in die steek laat? Ek dink nie so nie.

Gaitsigubib ·

Aggie, God sal mos niemand “in die steek laat” nie? D.m.v Hom wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het, kan ons mos nou die koninkryk ingaan, as ons net Sy genade en vergifnis aanvaar? Dalk kan jy my vertel of ek net die ou testement, net die nuwe, of net sekere dele moet lees. Ek hoor graag van jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.