VSA-polisie skiet nóg ʼn swart man dood

Foto’s van die betoging wys hoe van die betogers op ʼn polisievoertuig se enjinkap klim en op die voorruit trap (Foto: Stephen Maturen, AFP)

Die polisie het Sondag ʼn swart man by die Brooklyn-sentrum in die noordweste van Minneapolis in die VSA doodgeskiet. Dit nadat hy glo die verkeerswet oortree het. Dit het tot grootskaalse betogings in dié stad gelei.

Die man wat geskiet is, is deur familielede as Daunte Wright (20) identifiseer.

Dit kom byna ʼn jaar nadat George Floyd dood is toe polisielede hom in hegtenis probeer neem het. Floyd is boonop slegs ʼn paar kilometer van waar Wright geskiet is, dood. Grootskaalse betogings het toe ook uitgebreek.

Floyd is in Mei in Minneapolis dood toe ʼn polisieman vir etlike minute lank met sy knie op ʼn geboeide Floyd se nek gedruk het. Beeldmateriaal van die voorval het ʼn vlaag Black Lives Matter-veldtogte teen beweerde polisiewreedheid en rassediskriminasie in die VSA tot gevolg gehad.

Volgens Wright se ma, Katie, het hy haar Sondagaand gebel en ingelig dat hy in sy motor deur die polisie afgetrek is. Sy sê sy kon hoor hoe die polisie vir hom toe sê om die oproep te beëindig. Die oproep is daarna beëindig en sy het ʼn rukkie daarna die nuus ontvang dat hy geskiet is.

Minnesota se buro vir die aankeer van misdadigers het ook intussen bevestig dat hy die voorval ondersoek.

Luidens ʼn verklaring van die Brooklyn-sentrum het die polisie Wright weens ʼn verkeersoortreding afgetrek. Hulle het glo ontdek dat hy ʼn uitstaande lasbrief het en het hom in hegtenis probeer neem.

Daar was sterk polisieteenwoordigheid tydens die betogings (Foto: Stephen Maturen, AFP)

Die verklaring lui dat hy in sy motor wou klim toe een van die beamptes haar vuurwapen afgevuur het en Wright in die proses raakgeskiet het. Hy is op die toneel dood verklaar.

ʼn Vrouepassasier in die motor het “nie-lewensbedreigende beserings” opgedoen en is na ʼn plaaslike hospitaal geneem.

Nadat die voorval aan die lig gekom het, het honderde betogers aan die buitekant van die polisiestasie in die Brooklyn-sentrum byeengekom. Die polisie was genoop om traangas en rubberkoeëls af te vuur om die oproerige skare onder beheer te bring.

Die betogers het boodskappe soos “Geregtigheid vir Daunte Wright” met bordkryt in die straat geskryf (Foto: Stephen Maturen, AFP)

Foto’s van die betoging wys hoe van die betogers op ʼn polisievoertuig se enjinkap klim en op die voorruit trap.

Ná ongeveer ʼn uur van oproerigheid het die skare bedaar en kerse vir Wright aangesteek. Hulle het ook boodskappe soos “Geregtigheid vir Daunte Wright” met bordkryt in die straat geskryf.

Betogings het kort daarna weer opgevlam toe ʼn ander groep betogers buite dieselfde polisiestasie saamgedrom het. Hulle het klippe en ander swaar voorwerpe in die rigting van die polisiestasie gegooi. Die polisie moes weer eens ingryp om die situasie onder beheer te bring.

Betogers het sowat 20 winkels by die Brooklyn-sentrum geplunder.

John Harrington, die staat se kommissaris van openbare veiligheid, het tydens ʼn mediakonferensie gesê dat troepe van die nasionale wag Maandag ontbied is om die betogers uiteen te dryf.

Derek Chauvin, die voormalige polisiebeampte wat aangekla word van die moord op George Floyd, se verhoor is ook tans aan die gang. Maroela Media het vroeër berig Chauvin se aanvangsargumente in die verhoor het op 22 Maart begin en daar word verwag dat die saak ʼn maand lank sal duur.

Die 44-jarige Chauvin wat 19 jaar al lid van die polisie is, kan tot 40 jaar tronkstraf opgelê word as hy skuldig bevind word aan die ernstigste aanklag – moord in die tweede graad. Hy het in Oktober borgtog van sowat R16 miljoen betaal en is uit aanhouding by Oak Park Heights vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Werner ·

As n mens kyk na die nonsens wat die media kwyt raak kan jy nie meer glo wat jy lees nie.Verslaggewers ondersoek nie meer die feite nie.Glo die polisie sou hom nie sommer net geskiet het nie.

Cherokee ·

En die manier waarop sensasie gesoek word deur valuta waardes te misbruik, asof ‘n polisieman R16m borgtog kan bekostig.

Jean ·

Amerika het “bail bonds” en hulle borg betaal werk anders as S.A. sin.
@ Werner, die polisie het net geskiet maar soos die berigte sê hy het “tazer” geskreeu maar toe haal hy sy geweer uit. Die video is op die internet.

Misky ·

Hier gaan ons alweer en die mense raak van hulle kop af en sien net wat hulle wil. Ek kan nie glo dat polisie sommer net n man sal dood skiet as hy rustig is en sy samewerking gee nie. Kan nie wag om te sien hoe Biden die gaan hanteer in vergeleke met Trump laasjaar nie. Kry solank die popcorn!!!!

Ellie ·

amper se ek welkom in suid-afrika, toe sien ek dis oorsee…..

twaalfboor ·

“20 winkels geplunder” wat niks te doen het met die voorval nie. VSA of RSA….. Ganse van dieselfde dam.

SomeOne ·

“borgtog van sowat R16 miljoen betaal”, dit klink na die regte hoeveelheid om te betaal vir borg vir iemand wat dood is, nie die r100 wat hier in liederlike sa betaal word nie

gatgogga ·

“Betogers het sowat 20 winkels by die Brooklyn-sentrum geplunder.”
Ag, so ‘n lekker meevallertjie!

Keith ·

In America, if the police are talking to you whilst you are outside your vehicle and you SUDDENLY try and jump back in, you are going to get shot, regardless of colour. In the States rule number 1 is , do not get out of your vehicle if you are stopped by law enforcement, unless they tell you to. So it follows that you should not get back into your vehicle unless the Officer has said you can. A lot of crazy people also carry guns in the US, no wonder their police are so nervous.

Hennie ·

Daar moet dalk by Amerikaanse skole ‘n vak ingestel word wat verduidelik dat jy moet doen wat die polisie jou beveel. Moenie weg jaag nie, moenie na wapen gryp nie, moenie “slim” probeer wees nie. As hulle net die paar reëls gehoorsaam, sal die polisie nie op jou losbrand nie…

Ano98 ·

En wat van die “mass shooters” in Amerika wat onskuldige mense se lewens neem – en die feit dat hulle kan uitstap sonder om bang te wees dat hulle doodgemaak gaan word deur die polisie ? Wat maak hulle anders as die’ “krimineel” – dat hulle kon aanhou lewe ?

Johan ·

Los die polisie uit, doen iets (alreeds) omtrent die kriminele.

Ilze ·

Tot jy die een is wat “onskuldig” so behandel word deur die polisie?

Tjaart ·

Wag vir die hof se uitspraak voordat jy eiers le oor iets waarvan jy net in swak beriggewing gelees het. Jy volg duidelik nie die hofverrigtinge nie. In tussen wees spaarsamig met jou veroordeling.

Ilze ·

Tjaart ek kyk van dag 1 af elke dag hoe Eric Nelson sy naam met ‘n “fentinyl/ Meth/ hart versaking/ hoë bloedruk plank slaan…
So ek het al die bewys stukke gesien om my opinie te hê.
En ek dink Dr. Tobin, Dr. Baker, en Dr. Rich was uitstekend.

Die feit dat jy “kyk” en nie kan sien hoe dit verkeerd was nie, maak my bevraagteken of jy dit eintlik kyk.

Steve ·

So gaan maroela van nou af duidelik stel hoeveel Blankes word deur swartes vermoor? Of is dit net belangrik as dit andersom berig word?

Roedolf Johannes ·

Nou hoekom word daar va n Swartman vd VSA gepraat en hier in SA word dit van n man of persoon gepraat.Wonder maar net wat met die Media aangaan

Cherokee ·

Dit gaan oor die aspek van die berig. Die berig sou toentaal niks beteken het indien ras nie genoem is nie.

Chantel ·

Ons kyk gereeld realiteitsprogramme van hulle. Dis skokwekkend

MakersMark ·

Wel die statistieke in Amerika wys duidelik dat 13% van die populasie pleeg 90% van die “violent crimes” in die land. Tweedens het die 13% ‘n duidelike onvermoë om polisie bevele te gehoorsaam. En wanneer een nou geskiet word is dit onmiddelik rassisme en daar buig die knieë. Dalk sal die stop van misdaad en luister wanneer ‘n polisie officer met hul praat die tragedies voorkom.

koos10 ·

Hierdie polisie beampte gaan vervolg en skuldig bevind word, ongeag of hy reg of verkeerd op getree het. Net een vraag, was hy wit?

Ria ·

Liewe griet. Dis so hartseer dat winkel eienaars altyd moet inboet vir wat ookal gebeur. Winkels en eindom word altyd beskadig. Ek verstaan dit nie.

Sydney Ronald ·

As mens kyk na hoe die polisie in die VSA te werk gaan, sal menss wens ons polisie wil dit ook doen. Hulle patroleer die stede of dorpe en as hulle ‘n verkeers oortreding sien word die persoon afgetrek. Rekords word nagegaan vir vorige oortredings of lasbriewe. Menige male word mense vasgetrek met dwelms, vuurwapens, bestuur onder die invloed en lasbriewe. Die persoon wat afgetrek word se optrede bepaal baie keer hoe hardhandig die polisie optree.

Kiepie ·

Hier’s ‘n voorstel. Die polisie belowe om op te hou om “onskuldige” mense te skiet sodra almal met uitstaande lasbriewe vir arrestasie vrywillig by hul naaste polisiestasie aanmeld. Dit sal die polisie se werk soveel makliker maak.

Josua ·

Ek lees gister en vanoggend op sosiale media van twee gevalle in Amerika waar die wit polisie man n swart Luitenant in sy voertuig met peper spray gespuit het en almal wil hom nou laat afdank asook die polisie vrou wat perongeluk n swart man dood geskiet het toe sy haar “taizer”wou gebruik het en almal eis haar kop. Ons lewe in die eind tye mense hierdie gaan nie ophou nie net nog erger word BLM is presies hiervoor gestig juis om elke geleentheid te gebruik om ontslae te raak van wit polisie beamptes regoor die wereld en die mense kom dit nie eens agter nie , kyk hoe lyk ons polisie mag vandat hulle oorgeneem het misdaad het hand uitgeruk en niks word gedoen nie. Die mense wil n wereld skep sonder reels en regulasies sonder wette wil maak en breek soos hulle wil en vat waar hulle kan ongeag of hulle daarvoor betaal het of nie. Die Bybel waarsku ons juis dat dit gaan gebeur om nie eens van Covid te praat nie, so hierdie is nie n besonderse geval nie net nog n agenda geval.

Regverdigheid ·

WAT VERWAG HULLE MOET POLISIE TERUG STAAN DAT HUL DOEN WAT HULLE WIL OOOOOOEEEEE

Ano98 ·

Net dat die polisie nie links en regs mense dood maak wanneer hulle nie in gevaar is nie. Ek dink dis die basiese goed wat mense verwag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.