VSA, Rusland beskuldig mekaar ná oorlogskepe byna bots

ʼn Russiese oorlogskip (links) vaar baie naby aan die USS Chancellorsville (regs) in die Filippynse see (7 Junie 2019) (Foto: Onderoffisier 1ste Klas Christopher J Krucke van die Amerikaanse Vloot via AP)

Die Verenigde State van Amerika (VSA) en Rusland het mekaar Vrydag van onveilige optrede beskuldig nadat twee oorlogskepe van dié twee lande ongeveer 50 m verby mekaar gevaar het in die Oos-Chinese See.

Die Amerikaanse 7de Vloot het gesê die Russiese oorlogskip het die veiligheid van die USS Chancellorsville en sy bemanning bedreig en hy moes alle enjins op volle krag in trurat sit om ʼn botsing te voorkom. ʼn Helikopter wat in die gebied was, sou op die Chancellorsville geland het terwyl dit op ʼn bestendige roete was, toe die Russiese oorlogskip, wat agter die Amerikaanse skip gevaar het, skielik spoed vermeerder het en die Chancellorsville so naby as 15 m – 30 m genader het.

Clay Doss, woordvoerder vir die Japannees-gebaseerde 7de Vloot, het gesê niemand is beseer nie en hy is ook nie bewus van enige skade aan die skip nie. “Ons beskou Rusland se optrede as uiters onveilig en onprofessioneel en nie in ooreenstemming met die Internasionale regulasies vir die voorkoming van botsings op see (COLREGS) en internasionaal erkende maritieme gebruike nie.”

Die VSA het herhaaldelik die afgelope paar jaar gekla dat Russiese vliegtuie baie naby aan Amerikaanse vliegtuie vlieg en die twee lande is ook gereeld in ʼn stryd in internasionale lugruimte.

Rusland se weermag beskuldig egter die Chancellorsville daarvan dat hy ʼn gevaarlike beweging uitgevoer het deur die baan van die Admiral Vinogradov te kruis. “Die Amerikaanse oorlogskip het skielik van rigting verander en ongeveer 50 m voor die Admiral Vinogradov beweeg,” het die weermag in ʼn verklaring gesê. “Die bemanning van die Russiese skip moes ʼn vinnige beweging uitvoer om ʼn botsing te vermy.”

Rusland se weermag het gesê sy vloot het ʼn radioboodskap gestuur uit betoging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Hahahahshaha
Maar hulle het gesegte vegeut van ” it’s not the size that matters but the motion of the ocean”

Kobus ·

Op die een foto kan mens duidelik sien dat die russiese skip van baan verander het en nie die amerikaners nie

Anna ·

Hmmm, ek dink dis n geval van ‘ek gaan nie skuif nie, jy moet…’

Allan ·

Wat beteken die Russe het die botsing vermyn, nie die Amerikansers nie

Judge Dredd ·

Korrek ja – die waterskommeling van Russiese skip verander van rigting.

Wat egter nie so duidelik is , wanneer het Amerikaanse skip spoed verminder – en as hy nie spoed verminder het, sou hy nogsteeds in pad van Russiese skip wees? Sou dit enigsins nodig gewees het vir Rusiese skip om rigting te verander?

C Harris ·

Boelie taktiek baie duidelik tot vir leek soos ek om te sien dat die russe met opset teenaan die VSA se skip geseil het.

S ·

Stem volhartig saam met jou C Harris.
Internasionale vaarreëls van 1972 vereis dat enige skip wat ‘n ander skip van agter wil verby steek dit op ‘n veilige manier moet doen. Daar word geen aksie van die skip wat verby gesteek word vereis nie, behalwe om die situasie dop te hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.