VSA se breë bondgenootskap teen IS kry steun

Pres. Barack Obama (Amptelike Withuis-foto deur Pete Souza)

Pres. Barack Obama (Amptelike Withuis-foto deur Pete Souza)

Pres. Barack Obama het, volgens ’n Rasmussen-peiling wat pas gehou is, die steun van 66% van die Amerikaanse kiesers om lugaanvalle teen die IS na Sirië uit te brei.

Terwyl die breë bondgenootskap teen die terreurorganisasie, die Islamitiese Staat, momentum kry, toon die peiling dat slegs 16% van Amerikaners daarteen gekant is.

Uit ’n peiling wat kort tevore gehou is, het dit geblyk dat die IS se jongste onthoofding Amerikaners nou só warm onder die kraag het dat die helfte inskiklik is dat die VSA ook grondtroepe as deel van ’n koalisie teen die IS inspan. Minder voel egter dat die VSA dit op eie houtjie aanpak.

Intussen word berig dat die VSA lugaanvalle op ’n IS-basis baie naby, en net suidwes van die hoofstad Bagdad uitgevoer het.

Turkye, ‘n Navo-land, het ook laat blyk dat al hoe meer jong Turke die grens oorsteek om hulle by die IS aan te sluit. Na raming is sowat ʼn duisend Turke nou reeds in die IS se greep. Die Turkse woordvoerders meen dit hou enersyds met ideologie verband, maar ook omdat die IS sy stryders goed besoldig. Boonop die Turkye dikwels as deurgang vir mense uit Wes-Europa, bekend as jihadgangers, wat hulle by die IS gaan aansluit.

Die CIA meen die IS se mannekrag kom op tussen 20 000 en 31 500 te staan, veel meer as wat voorheen bereken is.

Turkye oorweeg nou om ’n buffersone op sy grens met Irak en Sirië te skep.

Hoewel ’n hele aantal Arabiese lande aangedui het dat hulle deel van die breë koalisie sal uitmaak, word al hoe meer skeptisisme gehoor oor die werkbaarheid van die Obama-plan. Terwyl die VSA en van sy ander Westerse vennote soos Frankryk die lugaanvalle loods, is die Arabiese lande veronderstel om grondtroepe beskikbaar te stel wat saam met die Irakse leër, en in die geval van Sirië, anti-Assad-rebelle, teen die IS te veg. Een van die probleme is dat Irak se weermag nou hoofsaaklik op Sjiïete staatmaak. Die lande wat moet kom help, is byna uitsluitlik Soenies, soos die IS ook is. Boonop is die Wahabiete van Saoedi-Arabië en die Salafiste van die IS ideologies baie nou verwant. Lees meer in die Christian Science Monitor, hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.