VSA se grense eindelik oop

Argieffoto. (Foto: Twitter)

Die VSA het Maandag sy land- en luggrense oopgestel vir reisigers van ander lande wat ten volle ingeënt is. Dit bring ʼn einde aan 20 maande se reisbeperkings wat families uitmekaar gehou, toerisme gekniehalter en diplomatieke bande benadeel het.

Die reisverbod is aanvanklik deur oudpres. Donald Trump ingestel en deur sy opvolger, pres. Joe Biden, gehandhaaf. Dit het hewige kritiek uit ʼn verskeidenheid oorde ontlok en is beskou as tekenend van die ontwrigting wat die pandemie veroorsaak het.

Die reisverbod geld sedert Maart 2020 en was spesifiek van toepassing op reisigers van Europa, Brittanje, China, Indië en Brasilië. Besoekers van Kanada en Mexiko is ook verbied in ʼn poging om die verspreiding van die pandemie te keer.

“Dit is ongelooflik moeilik. Ek wil net so graag my seun sien,” het die 63-jarige Alison Henry aan AFP gesê. Dié Britse vrou beplan om Maandag na die VSA te vlieg om haar seun vir die eerste keer in amper twee jaar te sien.

In ʼn poging om by te hou met die stygende aanvraag na vlugte het lugrederye meer oorsese vlugte as gewoonlik beskikbaar gestel. Hulle sal ook binnekort gebruik maak van groter vliegtuie en sien dit as ʼn reddingsboei vir ʼn bedryf wat lank reeds sukkel om kop bo water te hou.

Reisigers sal egter steeds streng gemonitor word en daar sal van reisigers verwag word om ʼn bewys van inenting teen Covid-19, sowel as ʼn negatiewe Covid-19-toets by aankoms in die land te voorsien.

Reisigers wat nié ingeënt is nie en padlangs reis, sal die land aanvanklik kan binnekom, mits hul reis noodsaaklik is. Reisigers wat vir plesier reis of vir familie kuier, sal steeds verplig word om ʼn bewys van inenting te lewer. Vanaf Januarie sal alle reisigers genoodsaak wees om bewys van inenting te lewer, maak nie saak wat die rede vir hul besoek is nie. Alle inentings wat deur die VSA se Food and Drug Administration en Wêreldgesondheidsorganisasie goedgekeur is, sal in dié land geldig wees.

Dit sluit in inentings van AstraZeneca, Johnson & Johnson, Moderna, Pfizer/BioNTech, Covaxin, Sinopharm en Sinovac.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Barney ·

Mediese apartheid. Hulle kan maar bankrot speel vir al wat ek omgee.

Jacobus ·

Intimidasie en afdreiging op internasionale skaal. Die ontwerpers van hierdie onreg word in die laaste paragraaf gelys. Julle tyd kom!

Marianna ·

Wat ten volle ingeent is. Afpersing gaan hulle nog duur te staan kom.

Klipkop ·

Wat ‘n klug om te sê dat inenting vrywillig is, maar oral word jy verplig om in te ent. Ek gaan my familie in VSA seker nooit weer sien nie. Die merk van die dier gaan op presies dieselfse wyse werk.

Papsak ·

Ja watse klug regtig maar toemaar hulle dag gaan hulle swaar kom kry

Lionel ·

@Kattebol – nou wat is die probleem dan. Vat jou 2 jabs, koop ‘n kaartjie en gaan kuier. In die proses sien jy jou familie en beskerm jouself & sommer die res van die samelewing om jou. Regtig nie rocket science nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.