VSA verbied Russiese olie-invoere

‘n Olieraffinadery van Marathon Oil in Washington. Die VSA het alle olie-invoere uit Rusland opgeskort. (Foto: David Ryder/Getty Images/AFP)

Die VSA het die invoer van Russiese olie verbied en só een van die kragtigste ekonomiese wapens teen Moskou in sy oorlog met Oekraïne ingespan.

Engeland het aangekondig dat hy dieselfde gaan doen en teen die einde van die jaar Russiese olie sal uitfaseer, terwyl die oliereuse BP en Shell reeds alle aankope van Russiese olie en gas opgeskort het.

Die Europese Unie (EU) gaan ook sy gas-invoere uit Rusland met tweederdes verminder. Noorweë, naas Rusland Europa se grootste verskaffer van gas, het intussen gewaarsku dat hy nie gasverskaffing kan verhoog nie, aangesien hy reeds teen volle kapasiteit lewer.

Die VSA het intussen gesê die Kremlin se gekoesterde geopolitieke energieprojek, die Nord Stream 2-pypleiding, is nou dood. “Dit is ʼn stuk metaal op die oseaanbodem. Ek dink nie dit sal ooit weer herleef nie,” het die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake, Victoria Nuland, Dinsdag aan Amerikaanse parlementslede gesê.

McDonald’s, Coca-Cola en Starbucks het reeds hul bedrywighede in Rusland opgeskort en hul stem gevoeg by ʼn internasionale koor wat die konflik verwerp.

Moskou kan kwalik meer die toenemende aantal sanksies teen Rusland ignoreer en die graderingsagentskap Fitch het Rusland vandeesweek tot rommelstatus afgegradeer, ʼn stap wat daarop dui dat Rusland se vermoë om sy skuld te diens, binnekort daarmee heen kan wees.

Daar is al hoe meer druk op sakeondernemings en sportorganisasies om bande met Rusland te verbreek en die Premierliga het Dinsdag aangekondig hy gaan sy ooreenkoms met sy Russiese uitsaaivennoot opskort.

Amerikaanse pres. Joe Biden het Dinsdag gesê die Amerikaanse olie-embargo op Rusland sal die “hoofslagaar” van Moskou se ekonomie afsny en het onderneem dat Oekraïne “nooit ʼn oorwinning” vir die Russiese leier Wladimir Poetin sal wees nie.

Die Russiese inval van Oekraïne het die grootste oorlog in Europa en die vasteland se grootste vlugtelingkrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak, terwyl die Weste reeds reageer het met sanksies teen Rusland wat ʼn uitwerking op die wêreldwye ekonomie het.

Humanitêre ontsnappingsroetes

Nuwe humanitêre stroke sal na verwagting Woensdag heropen word, terwyl burgerlikes desperaat uit beleërde stede probeer vlug.

Rusland sê die roetes sal beskikbaar gemaak word in vyf stede waar sy magte bombarderings doen, maar Kiëf het herhaaldelik gewaarsku dat Moskou nie werklik burgerlikes toelaat om te vlug nie. Moskou is boonop daarvan beskuldig dat hy een van dié humanitêre stroke gebombardeer het.

“Dié optrede is niks anders as volksmoord nie,” het die Oekraïense verdedigingsdepartement op Facebook geskryf.

Die nuwe humanitêre roetes is veronderstel om te open in die hoofstad, Kiëf, asook die hawestad Marioepol, Kharkiv, Sumy en Chernihiv, het ʼn amptenaar van die Russiese departement van verdediging gesê. Daar is nie gemeld of die roetes na Rusland of Belarus sou lei nie, ʼn voorwaarde wat Kiëf in vorige ontruimingsplanne verwerp het.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) het meer as twee miljoen mense reeds oor die Oekraïense grense gestroom om Russiese bombardering te ontkom. Daar was ten minste al berigte dat mense suksesvol op die roetes die land kon verlaat.

Minstens 5 000 mense is ná dae lange gevegte wat minstens 21 lewens geëis het, in die noordelike stad Sumy bevry. Mense kon ook die hoofstad verlaat.

Burgerlikes se pogings om Marioepol te verlaat, het egter al verskeie kere misluk, met Kiëf wat aanvaar dat Moskou weier om vroue, kinders en bejaardes toe te laat om die stad te verlaat.

Nee vir vegvliegtuie na Kiëf

Pres. Wolodimir Zelenski het vroeër gekla dat hy meer lugsteun benodig om die Russiese aanval te beveg. Westerse regerings het egter reeds vasgeskop teen die idee van ʼn geen-vlieg-sone om die Oekraïense lugruim te beskerm, ondanks Kiëf se versoeke daarvoor.

Washington het nou boonop ʼn aanbod van Pole, een van sy Navo-bondgenote, verwerp om vegvliegtuie via ʼn Amerikaanse basis aan Kiëf te stuur. Die voorstel is verwerp weens vrese dat die stap ʼn selfs groter konflik met Rusland kan ontketen.

Die Pentagon het die Poolse plan van die hand gewys om die Mig-29-vegvliegtuie na ʼn Amerikaanse lugmagbasis in Duitsland te stuur en gesê die stap sal onverdedigbaar wees.

“Die vooruitsig van vegvliegtuie wat vertrek van ʼn Amerikaanse/Navo-basis in Duitsland om te vlieg na ʼn lugruim wat betwis word met Rusland weens Oekraïne, laat ernstige kommer ontstaan vir die algehele Navo-alliansie,” het Pentagon-woordvoerder John Kirby gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Nou straf julle almal net omdat een Putin sy land wil beskerm?
Baie stupid.

Grassie

Ek dink nie die VSA, Engeland en Europa verstaan mooi hoe Poetin en die Russe se koppe werk nie. Dink hulle nou regtig Rusland gaan sê “jammer, ek geepad nou uit Oekraïne, julle het gewen”. Met elke boikot word die Russe meer aggressief en sterf daar meer onskuldige mense in die land, moet meer mense landuit vlug en al hulle besittings, ook hul wonings, verloor. Dit is hartveskeurend om te sien hoe opgevoede mense, wat soos ons lyk, in hul duisende, paniekbevange en sonder veel hoop oor die grense stroom.

Andre

En Biden verbied alle nuwe boorgate vir olie en gas. Wie ontgeld dit?

Kokerboom

Die een ding om jou land te beskerm(Putin) maar dis ‘n ander ding om eensydig dood en verwoesting te saai as jy nie eers aangeval is???!!Hoe regverdig hy dit?

Jacques

Die media wil vir ons vertel hierdie sanksies om die Russiese ekonomie te verwoes, word “noodgedwonge” toegepas om Russiese agressie te stop. Nou hoekom nou eers? Hoekom nie al lankal sanksies gebruik om die “slagting” in Sirië te probeer keer nie? Verder: “Die VSA het intussen gesê die Kremlin se gekoesterde geopolitieke energieprojek, die Nord Stream 2-pypleiding, is nou dood. “Dit is ʼn stuk metaal op die oseaanbodem. Ek dink nie dit sal ooit weer herleef nie,” het die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake, Victoria Nuland, Dinsdag aan Amerikaanse parlementslede gesê.” So as bogenoemde die doel is van die olie… Lees meer »