VSA-verkiesing nog onbeslis

Pres. Donald Trump (links) (Foto: (AP Photo/Steve Helber); Joe Biden (regs) (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing is nog in die weegskaal met ʼn paar state waar die uitslag binne die volgende paar uur of dae bekendgemaak sal word.

Pres. Donald Trump het egter voortydig sy oorwinning verklaar en bewerings gemaak van verkiesingsbedrog.

Die Republikeinse president en sy Demokratiese opponent, Joe Biden, moet minstens 270 van die kierskollege-stemme inwin. Teen 17:00 (Suid-Afrikaanse tyd) staan Biden op 238 stemme en Trump op 213 stemme.

Meningspeilings het maande lank Biden landswyd as ʼn sterk voorloper aangedui, maar in verskeie state was dit ʼn taai stryd vir die twee kandidate.

Die 77-jarige Biden het in die vroeë ure gesê hy is vol vertroue dat hy die verkiesing sal wen en het burgers gemaan om geduldig te bly.

Trump (74) het kort daarna by die Withuis verskyn en sy oorwinning verklaar. “Ons maak gereed om hierdie verkiesing te wen. Trouens, ons het die verkiesing gewen,” het hy gesê voor hy die verkiesingsproses gedaag het. “Dit is ʼn groot bedrog op ons land. Ons wil hê die wet moet behoorlik aangewend word. Ons sal na die hoogste hof toe gaan. Ons wil hê die tellery moet stop.”

Hy het egter nie enige bewyse gegee vir sy bewerings van bedrog nie.

Die stemmery is Dinsdagaand afgesluit, maar talle state neem tot dae lank om die stembriewe te tel. ʼn Groot getal persone het deur die pos hul stem uitgebring weens die Covid-19-pandemie en dit beteken die tellery kan langer as gewoonlik duur.

Die volgende Amerikaanse president sal die pandemie in Amerika moet bestuur waar meer as 231 000 persone reeds in die VSA gesterf het en miljoene werkloos gelaat is.

Die trio van die “blou muur”-state wat Trump in 2016 na die Withuis gestuur het, Michigan, Pennsilvanië en Wisconsin, se uitslag is nog te naby om ʼn voorspelling te waag. Biden het ʼn effense voortou geneem in Nevada waar beamptes gesê het hulle sal nie voor Donderdag ʼn finale telling kan bekendmaak nie.

Twee state in die Suide, Georgia en Noord-Carolina, is ook nog onbeslis. Trump loop tans in albei voor. Indien Biden enige van dié state wen, sal Trump se kanse beduidend verswak.

Biden se oorwinning in Arizona (Fox News en Associated Press het voorspel dat hy die staat sou wen) bied aan hom ʼn verskeidenheid van bane na die Withuis.

As Biden Nevada sou wen, kan hy die verkiesing wen as hy in Wisconsin en Michigan kan wen, selfs al verloor hy Pennsilvanië. Hy loop tans effe voor in dié twee state.

Trump se oorwinning berus waarskynlik op Pennsilvanië – as hy dié staat wen, sal hy ook die verkiesing wen, mits hy die suidelike state behou en minstens een midwestelike staat wen.

Beamptes in Michigan en Georgia het Woensdag gesê hulle sal na verwagting teen die einde van die dag klaar getel wees.

Tydens die finale dae van die verkiesingsveldtog het Trump gesê hy sal sy oorwinning verklaar as hy die aand van die verkiesing voorloop en dan poog om die tellery van bykomende stembriewe stop te sit.

“Die president se verklaring vanaand dat hy die tellery wil stopsit is verregaande, ongekend en verkeerd,” het Biden se veldtogbestuurder, Jen O’Malley Dillon in ʼn verklaring gesê.

Voor Trump by die Withuis verskyn het, het hy sy opponent op Twitter gekap: “Ons loop groot voor, maar hulle wil die verkiesing steel. Ons sal nooit toelaat dat hulle dit doen nie. Stemme kan nie uitgebring word ná die stembusse gesluit het nie.” Twitter het vinnig dié plasing gemerk met ʼn waarskuwing dat dit moontlik misleidend kan wees.

“Dit is nie my plek of Donald Trump se plek om die wenner van die verkiesing te verklaar nie. Dit is die kiesers se plek,” het Biden op Twitter gesê in reaksie op die president se plasing.

Wêreldleiers sit in afwagting vir die uitslag van die Amerikaanse verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Kom leer by die ANC gee vir almal kos pakkies en t hemde verniet en belowe hulle gaan alles verniet kry

Frank ·

Sjoe, die stedelinge stem erg vir Biden. Ek kyk bv na Wisconsin. Al die counties is rooi, amper die hele staat. Dans daar so paar blou blokkies hier en daar, seker stede. Nogtans is daar genoeg Biden ondersteuners in daardie paar blou blokkies om die staat vir Biden te gee!!!!!!!

Dirk Mostert ·

Stedelike uitslae is gewoonlik voor plattelandse uitslae. Hier was ‘n geknoeiery met stemme!

katerinadiekat ·

Daar is n verskriklike geknoei en skelmgatgeid met hierdie verkiesing.

Pieter ·

Die verkiesing kom nou voor as ‘n kookspul om Biden te laat wen. Die skielike steun vanuit Michigan en Wisconsin nadat Trump daar voorgeloop het is statisties onwaarskynlik, veral nadat Biden 115000 stemme bykry en Trump 0 in ‘n telperiode. Daarby kry Nevada nie klaar getel nie. Dit is vreemd nadat die stemdag stemme reeds getel is, nog posstemme inkom. Indien jy ‘n posstempel het kan jy maar stemme ingooi.

Dirk Mostert ·

Pennsilvanie na 75% stemme getel was 56-44 in Trump se guns. Biden benodig ‘n 68-32 wen uit 25% om net gelyk te kom. In alle state was die aanvanklike voorloper uiteindelik die wenner. Trump het in 7 van die ander 8 swaai-state voorgeloop na 95-99% stemme getel is. Dit sou ‘n ongelooflike konsentrasie van Biden-stemme verg om die uitslae daar om te swaai. Dat dit wel gebeur het in Michigan en Wisconsin, dui Biden se stelling, dat die verkiesing eers oor is na die laaste stem getel is, op kaarte in sy mou.

Einstein ·

As hy verloor, gaan die waarheid hom die skok van sy lewe besorg. Daai skok mag dalk net sy einde beteken, letterlik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.