VSA, VN eis bewyse van ‘vermiste tennisster’ se welstand

Peng Shuai (Foto: Eric Feferberg/AFP)

Die VSA en die Verenigde Nasies (VN) dring daarop aan dat bewyse gelewer word oor waar die Chinese tennisster Peng Shuai haar bevind.

Dit kom nadat ’n Chinese staatsverwante joernalis ongeverifieerde foto’s van die tennisster, wat nog nie in die openbaar gesien is sedert sy ’n voormalige vise-premier daarvan beskuldig het dat hy haar gedwing het om seks te hê nie, geplaas het.

Foto’s van ’n glimlaggende Peng het laat Vrydag op ’n Chinese staat-geaffilieerde Twitter-rekening verskyn, maar die egtheid daarvan kon nie geverifieer word nie en die gebruiker het nie op AFP se versoek om kommentaar gereageer nie.

Jen Psaki, perssekretaris van die Withuis, het vroeër gesê die administrasie van president Joe Biden wil hê dat China “onafhanklike, verifieerbare bewyse” moet lewer van waar Peng haar bevind. Die administrasie het sy “diepe kommer” oor die voormalige dubbelspelspeler uitgespreek.

Die VN het aangedring op ’n ten volle deursigtige ondersoek na die aansprake wat Peng teen die Kommunistiese Party-grootkop Zhang Gaoli gemaak het.

Peng (35) het vroeër vandeesmaand op die Chinese sosialemediawebwerf Weibo beweer dat Zhang, nou in sy 70’s, haar gedwing het om seks te hê tydens ’n aan-af-verhouding wat oor etlike jare gestrek het.

Die bewerings is vinnig van Weibo verwyder en Peng is sedertdien nie in die openbaar gesien nie.

“Dit is belangrik om bewyse te kry van waar sy haar bevind en haar welstand,” het Liz Throssell, ’n woordvoerder van die VN se Menseregtekantoor, aan verslaggewers in Genève gesê.

“Ons vra vir ’n ondersoek met volle deursigtigheid na haar bewerings van seksuele aanranding.”

Ander tennissterre soos Novak Djokovic, Serena Williams en Naomi Osaka, sportliggame en regerings het ook al hul kommer oor Peng se welstand uitgespreek en versoek dat inligting bekend gemaak word.

Die hoof van die WTA, die topwêreldliggaam vir vrouetennis, het gesê die organisasie is bereid om honderde miljoene dollar in Chinese besigheid te verloor in een van sy grootste markte om Peng se welstand te verseker.

China het herhaaldelik geweier om kommentaar oor die saak te lewer.

Peng Shuai (Foto: Greg WOOD / AFP)

Hu Xijin, uitgesproke redakteur van Global Times wat deur die Kommunistiese Party besit word, het Saterdag getwiet: “Sy sal binnekort in die openbaar opdaag en aan sommige aktiwiteite deelneem.”

ʼn E-pos wat glo deur Peng geskryf is, het vandeesweek tot nóg groter kommer oor haar veiligheid en welstand gelei. In die e-pos wat aan Steve Simon, voorsitter van die WTA, gerig is, sê Peng sy word nie vermis nie en dat die bewerings oor die seksuele aanranding vals is. Die egtheid van die e-pos word egter in twyfel getrek.

Peng het China al in verskeie Olimpiese Spele verteenwoordig en is ’n voormalige Wimbledon- en Franse Ope-dubbelspelkampioen.

“Die Chinese regering het stelselmatig die land se #MeToo-beweging stilgemaak,” het Amnestie Internasionaal in ’n verklaring gesê.

“Dit is uiters kommerwekkend dat Peng Shuai blykbaar vermis word nadat sy ’n hooggeplaaste voormalige regeringsamptenaar van seksuele aanranding beskuldig het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jeepie ·

Gaan hou Mej Heelal in China. Hulle is mos ons maaitjies. Niks fout daar nie.

Chris dupreez ·

Kan duidelik sien hoekom die anc en china hand om die blaas is.

Ou bees ·

Ja dis waar ons land oppad heen is al verkil is ons gaan en is net die melkkoei van China in die toekoms

JohanR ·

Wonder hoekom Suid Afrika nie ook vra waar die vrou is nie. Begin haar ter voorskyn, en laat sy met die wereld praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.