VSA wag vir entstof terwyl infeksies hoogte inskiet

Die soektog na ‘n Covid-19-entstof duur voort. (Foto: Joel Saget/AFP)

ʼn Rits Covid-19-beperkings staar Amerikaners weer van Vrydag in die gesig, terwyl die farmaseutiese reus Pfizer en sy vennoot BioNTech voorberei om ʼn noodaansoek in te dien om hul entstof teen die virus te begin gebruik.

Kalifornië het ʼn aandklokreël ingestel en die owerhede het mense landwyd gevra om nie oor Dankseggingsdag (Thanksgiving) te reis nie nadat die land getref is deur ʼn styging van meer as 2 200 sterfgevalle – die hoogste daaglikse tol sedert Mei vanjaar.

Die vlaag kom terwyl Indië die negemiljoen-infeksiekerf verbygesteek het en hospitale in veral die hoofstad Delhi onder enorme druk verkeer.

Die wêreldwye uitbreking woed voort nadat dit reeds die lewe van meer as 1,35 miljoen mense geëis en 56 miljoen mense al die virus opgedoen het. Talle regerings se hoop is nou op verskeie belowende entstowwe om ʼn einde aan die situasie te bring.

Pfizer en BioNTech se aansoek om die noodgebruik van die entstof wat die maatskappye gesamentlik ontwikkel het, word na verwagting Vrydag by die Amerikaanse Voedsel-en- dwelmadministrasie ingedien.

Die minister van gesondheid, Alex Azar, het tydens ʼn mediakonferensie by die Withuis gesê die aansoek word binne dae verwag, ʼn bevestiging van die tydlyn wat BioNTech se medestigter, Ugur Sahin, gegee het.

Moncef Slaoui, die wetenskaplike hoof van die Amerikaanse projek om ʼn entstof te ontwikkel, het gesê die finale toestemming sal waarskynlik in Desember gegee word.

Die Europese Unie (EU) kan ook die entstof, asook ʼn ander een wat deur Moderna ontwikkel is, voor die einde van volgende maand goedkeur, het die president van die EU-kommissie, Ursula von der Leyen, gister gesê.

Die twee kandidate het die leiding geneem in die wêreldwye soektog na ʼn oplossing vir die uitbreking. Data van grootskaalse proewe het die afgelope maand gewys die entstof is 95% doeltreffend.

Die spoed waarteen die entstowwe ontwikkel is, het egter gevaarligte by sommiges laat flikker.

Amerikaanse adjunkpres. Mike Pence tydens ‘n mediakonferensie by die Withuis. (Foto: Brendan Smialowski/AFP)

Anthony Fauci, een van die VSA se voorste kenners in aansteeklike siektes, het vrese probeer besweer in ʼn ongewone mediakonferensie deur die Withuis se taakspan daaroor.

“Die spoed van die proses het nie veiligheid of wetenskaplike integriteit in die gedrang gebring nie. Dit is ʼn weerspieëling van die ongelooflike wetenskaplike vooruitgang in dié soort entstowwe,” het Fauci gesê.

In China het bykans ʼn miljoen mense reeds ʼn eksperimentele entstof gebruik wat deur die Chinese maatskappy Sinopharm ontwikkel is, het die maatskappy gesê. Die maatskappy het egter nog geen kliniese bewyse van die doeltreffendheid daarvan voorgelê nie.

Die land gee reeds sedert Julie eksperimentele Covid-19-entstowwe aan mense, onder wie staatsamptenare, internasionale studente en noodsaaklike werkers.

Beijing het die entstofresies stormgeloop en vier entstowwe is in die laaste fases van toetse.

Die onlangse styging in infeksies in die VSA het die owerhede sodanig bekommer dat Amerikaners gevra is om oor Dankseggingstyd tuis te bly – ʼn tydperk wanneer miljoene mense gewoonlik reis.

“Dit is nie ʼn vereiste nie, maar wel ʼn sterk aanbeveling,” het Henry Walke, ʼn dokter verbonde aan die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming, gesê.

Amerikaanse state en stede bepaal hul eie maatreëls, waaronder dié om tuis te bly, ʼn sluiting van binnenshuise restaurante en ʼn beperking op byeenkomste, terwyl infeksies in die VSA die hoogte inskiet.

New York het Donderdag reeds alle skole gesluit – ʼn besluit wat sowat 1,1 miljoen leerders raak – terwyl gimnasiums en kroeë oop bly.

Kalifornië se aandklokreël wat tussen 22:00 en 05:00 geld, tree Saterdag in werking, met goewerneur Gavin Newsom wat sê dit is “belangrik om oordrag te verminder en hospitaalopname te verstadig”.

Indië is nou die land wat wêreldwyd die naasmeeste deur die virus getref is wat infeksies betref. Meer as 132 000 Covid-19-sterfgevalle is al daar bevestig.

In Nieu-Delhi, wat onder ʼn dubbele vlaag van winterbesoedeling en die koronavirus gebuk gaan, is die afgelope paar dae rekordgetalle infeksies aangemeld – gevalle tot dusver staan nou op sowat ʼn halfmiljoen.

Dinsdag het die megastad se regering boetes vier keer meer gemaak vir inwoners wat versuim om ʼn masker te dra, in ʼn poging om beheer oor die pandemie te kry.

Talle gesinne skarrel intussen om hospitaalbeddens vir hul siek geliefdes te bespreek.

‘n Verlate straat in Adelaide, Australië, nadat ‘n inperkingstyd weer ingestel is. (Foto: Brenton Edwards/AFP)

In Suid-Australië gaan ʼn ses dae lange inperkingstyd vir die staat se bykans twee miljoen mense met twee dae kortgeknip word nadat ʼn werker by ʼn pizzawinkel die waarheid oor sy bewegings vertel het nadat hy owerhede aanvanklik daaroor mislei het.

Amptenare sê die man het beweer hy is ʼn klant van ʼn pizzawinkel – wat die owerhede laat glo het dat die virus sterk genoeg was om deur ʼn wegneem-pizzaboks oorgedra te word – terwyl hy inderwaarheid self in die winkel gewerk het.

“Die storie het net nie sin gemaak nie en ons het dit opgevolg. Ons weet nou hulle het gelieg,” het premier Steven Marshall gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

As die media vergelykende syfers oor griep infeksies en sterftes oor die afgelope paar dekades publiseer sal dit perspektief bring maar die sensasiewaarde laat afneem, dus word dit eerder verswyg en word die wêreld steeds mislei om te glo dat vanjaar se griep so buitengewoon is dat ons onsself daaroor moet ontmens.

Kobus ·

Steeds dieselfde ou storie Jan. Kom ons vergelyk die VSA as voorbeeld. In 2018 het die VSA na beraming 80000 sterftes aan verwante griep gehad, die hoogste in 40 jaar. Tans staan hulle op 260000 COVID sterftes en na verwagting gaan dit 300000 wees teen die einde van die jaar. Net sensasie volgens jou… jy vergeet dat agter elke nommer is n mens en familie wat dit nie as sensasie ervaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.