VSA wil TikTok uitskop

TikTok se logo. (Foto: AP)

Die Amerikaanse senaat het Dinsdag ten gunste van ʼn wetsontwerp gestem wat TikTok, die kortformaat-videoapp, in die VSA sal verbied, of ʼn gedwonge verkoop daarvan tot gevolg kan hê.

Altesame 79 senators het ten gunste van die wetsontwerp gestem, met 18 daarteen, berig The Guardian. Die wetsontwerp word nou na pres. Joe Biden vir goedkeuring verwys. Die Amerikaanse president het vantevore al aangedui dat hy van plan is om dit te onderteken.

Ingevolge die nuwe wetgewing het ByteDance, die Chinese eienaar van TikTok, ʼn jaar om die gewilde sosialemediaplatform aan ʼn Amerikaanse maatskappy te verkoop. Doen hy dit nie, kan die app in die geheel in alle Amerikaanse app-winkels verbied word.

Die maatskappy gaan dit egter nie sonder meer aanvaar nie en ʼn groot regstryd word verwag.

Die maatskappy voer aan die besluit gaan die app se nagenoeg 170 miljoen Amerikaanse gebruikers van onder meer hul reg op vryheid van spraak ontneem.

Die senaat se planne sal waarskynlik ook die wind van voor kry van TikTok se inhoudskeppers wat op die platform staatmaak om ʼn inkomste te verdien, berig Sky News.

Die wetsontwerp is ʼn piek in voortgesette vrese aan albei kante van die politieke spektrum in Washington oor TikTok se eienaarskap. Vir jare het politici en amptenare in die VSA hul kommer te kenne gegee dat Chinese owerhede ByteDance kan dwing om Amerikaanse gebruikers se data te oorhandig.

TikTok voer aan dié versoek het nog nooit gekom nie en hy sou ook nie tot so ʼn versoek instem nie.

Die gebruik van TikTok deur die federale regering se byna vier miljoen amptenare op toestelle in besit van die regering, is reeds in die VSA verbied. Daar is beperkte uitsonderings vir wetstoepassing, nasionale veiligheid en sekuriteitsnavorsingsdoeleindes.

Maria Cantwell, voorsitter van die senaat se handelskomitee, het volgens Sky News gesê die stap om die verkoop van TikTok af te dwing is nie daarop gemik om ByteDance, TikTok of ander maatskappye te “straf” nie.

“Die kongres tree op om te verhoed dat buitelandse teenstanders spioeneer, besig is met waarneming of kwaadwillige sendings uitvoer wat kwesbare Amerikaners, ons dienspligtiges en Amerikaanse staatsamptenare benadeel,” sê Cantwell.

Waarom die verbod?

TikTok het binne sewe jaar ongeveer 170 miljoen Amerikaanse gebruikers na die platform gelok.

Die tegnologiefirma ByteDance wat in Beijing gesetel is, het oorspronklik die Chinese weergawe van die app, genaamd Douyin, wat “skudgeluid” beteken, in 2016 bekendgestel. Hy het in November 2017 opgevolg met die internasionale weergawe genaamd TikTok.

Sedertdien het die platform ongelooflike sukses gehad. Aangevuur deur sy gewildheid by generasie Z, het dit ʼn invloedryke sosialemediaplatform geword. Daar is egter uitgebreide kommer oor die veiligheid van gebruikers se data.

Indië was die eerste land wat TikTok in 2020 verbied het. Die besluit het gevolg op ʼn gewelddadige botsing op die grens tussen Indië en China wat die lewe van minstens 20 Indiese soldate geëis het.

TikTok is ook nie in app-winkels in China beskikbaar nie. In China beheer die staat die internet geweldig streng en die Douyin-weergawe word daar gebruik.

  • Bronne: Sky News, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

Ek is self nie ‘n TikTok gebruiker nie, maar ontvang baie boodskappe vanaf hierdie App. Myns insiens is dit maar bra eenvoudig.

Yolandie ·

Ek is ook nie ‘n TikTok gebruiker nie, maar vir my is dit app net gif vir ons kinders. Daar behoort beslis ‘n ouderdoms beperking op die app te wees, maar dit is nie die geval nie. My kind het nie die app op haar foon nie, maar die video clips is op YouTube ook.

groenboer ·

Hulle kan die ding herdoop na TikToksies: absoluut giftige, verslawende gedrog, wat in effek kinders van hul kinderdae beroof.

Cherokee ·

Ek kyk met tye na Tik Tok, en geniet dit. Het julle wat kla al opgelet hoeveel Christelike programme daarop is? En Christelike liede wat gespeel word. Jy kan tog uitsoek wat jy wil kyk. Dit is interessant.

Deon ·

Dit gaan nie vir die VSA regime om Christelike of morele redes nie – eerder om menings te snoer wat ongemak veroorsask by die omgekoopte staat.

andre ·

Vryheid van spraak word nie onder die Biden regering toegelaat nie.

andre ·

Vryheid van spraak word nie onder die Biden regering toegelaat nie. In Australie wil hulle X – Twitter verban.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.