Vulkaan bars uit: ‘Ek kon net bid vir my en my dogter se veiligheid’

Dié lugfoto wys hoe huise met as bedek is in Sumberwuluh, Lumajang (6 Desember 2021) (Foto: Adek Berry/AFP)

Berg Semeru op die eiland Java in Indonesië het Maandag nóg as uitgespoeg en die soektog na oorlewendes word hierdeur belemmer. Die dodetal het intussen tot 22 gestyg ná die vulkaan die naweek onverwags uitgebars het.

Maroela Media het vroeër berig die grootste berg op die eiland het Saterdag uitgebars en ʼn sampioenvorm vulkaniese as hoog in die lug gespoeg. Warm modder het neergedaal terwyl duisende paniekbevange inwoners probeer vlug het.

Lugfoto’s wys strate wat met grys vulkaniese as en modder oorstroom is. Talle huise en voertuie, insluitend vragmotors, is verswelg.

Die nasionale rampbestuuragentskap het gesê die dodetal staan Maandag op 22 en 27 persone word nog vermis.

“Ek hoop nog steeds my seun sal gevind word. Elke keer wanneer ek hoor slagoffers is gevind, hoop ek dit is my seun,” sê Maskur Suhri van Sumberwuluh. Hy was besig om boomsap te versamel toe die vulkaan uitgebars het. “Die kans is skraal dat hy oorleef het. Miskien is dit my seun se lot, maar ek hoop nog steeds dat hy gevind sal word – selfs al is dit net sy liggaam.”

Inwoners probeer red wat hulle kan uit hul huise in Lumajang (6 Desember 2021) (Foto: Juni Kriswanto/AFP)

Vulkaan-aktiwiteit het Maandag die soektog belemmer. Reddingspanne moes uit sommige gebiede onttrek. Hul taak word ook bemoeilik omdat die vulkaniese neerslag besig is om te verhard.

“Dis baie moeilik sonder die regte toerusting,” sê reddingswerker Rizal Purnama. “Daar is waarskynlik persone wat nog nie gevind is nie en onder die warm modder begrawe is.”

Ander reddingsbeamptes het desperate inwoners gehelp om hul eiendom uit hul verwoeste huise te red. Sommige inwoners het hul matrasse en meubels op hul skouers getel en ander het met bokke in hul arms weggeloop.

Beamptes het inwoners aangeraai om nie nader as ʼn 5 km radius van Semeru se krater te kom nie, omdat die lug besoedel is en dit kwesbare mense kan affekteer.

ʼn Kantoor van ʼn sandmyn in Kampung Renteng is onder die uitbarsting begrawe en 15 werkers is vasgekeer, aldus voorman Hasim (65). “Daar is nog nie enige nuus van hulle nie. Slegs een werker is gered. Hy word vir brandwonde in die hospitaal behandel,” het hy aan AFP gesê. Hasim het huis toe gehardloop tydens die uitbarsting. “Dit was pikdonker. Dit was net 15:00, maar dit het soos die nag gelyk.”

Reddingsbeamptes sê sommige mense is in hul voertuie begrawe. Hulle kon nie betyds ontsnap nie.

Suwarti Ningsi en haar dogter was vyf ure lank in hul huis vasgekeer ná die uitbarsting. “Ek kon niks sien nie. Dit was nag. Almal was paniekbevange,” het die 42-jarige vrou gesê. “Ek kon net bid dat ek en my dogter gered sou word.”

Die Rooikruis het ambulanse, mediese spanne en meer as 65 000 gesigmaskers – om inwoners teen die as en Covid-19 te beskerm – beskikbaar gemaak.

Reën word vir die gebied voorspel wat die reddingswerk verder sal belemmer. ʼn Vulkanoloog, Surono, het aan ʼn plaaslike televisiestasie gesê daar is ʼn risiko dat die reën sal veroorsaak dat die neerslag ʼn nuwe rivier warm lawa vorm.

Semeru het laas in Desember 2020 uitgebars en duisende inwoners moes vir hul lewens vlug. Indonesië het ongeveer 130 aktiewe vulkane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herman ·

SA is eintlik baie geseen dat ons nie al die natuur rampe het nie. Sterkte vir die daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.