Vulkaan kan dalk nóg lawa spoeg

Smeulende as in Goma in die Demokratiese Republiek van die Kongo ná Nyiragongo uitgebars het (23 Mei 2021) (Foto: Moses Sawasawa / AFP)

Die risiko vir verdere uitbarstings by vulkaan Nyiragongo in die Republiek van die Kongo (DRK) het owerhede genoop om groot gedeeltes van die stad Goma onmiddellik te ontruim. Dié stad huisves meer as 1,5 miljoen mense en derduisende inwoners sal gevolglik ’n ander heenkome moet vind.

Dít volg nadat ’n uitbarsting sowat ’n week gelede bykans 2 500 huise vernietig en sowat 5 000 mense dakloos gelaat het. Teen Dinsdag het die dodetal reeds op 32 gestaan.

Sedert die uitbarsting verlede Saterdag het aardbewings inwoners in vrees gedompel. Boonop is twee groot aardskeure Dinsdag op die grond in Goma opgemerk.

Genl. Constant Ndima, plaaslike militêre goewerneur, sê die moontlikheid van ’n vulkaniese uitbarsting op land of onder die Kivu-meer kan nie uitgeskakel word nie.

“Dit kan binnekort en sonder waarskuwing gebeur.

“Seismiese data en grondverskuiwings dui die teenwoordigheid van magma onder die stedelike gebied van Goma aan, asook ’n gedeelte onder die Kivu-meer.”

Ndima sê die situasie kan vinnig verander en dit word deurlopend dopgehou.

“’n Verdere risiko hou verband met die wisselwerking tussen die magma en die water in die Kivu-meer, weens die hoë volume gas wat hierin opgelos word en die vrystelling van moontlik gevaarlike gasse op die bodem.

“Ontruiming is noodsaaklik en moet op ’n kalm wyse en sonder haas geskied.”

Volgens Ndima het owerhede reeds vervoerreëlings vir inwoners getref, onder meer in die rigting van Sake, sowat 20 km wes van Goma.

“Mense moet die minimum saam met hulle neem om te verseker dat elkeen ’n vervoergeleentheid kry.”

Die laaste vulkaniese uitbarsting in 2002 het sowat 100 lewens geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.