Vulkaan: Ses liggame van Witeiland herwin

‘n Militêre vliegtuig Vrydagoggend by die Whakatane-lughawe. (Foto: Mark Baker, AP)

’n Spesialistaakspan het Vrydagoggend die liggame van ses mense van Witeiland in Nieu-Seeland herwin.

Die taakspan bestaande uit ses mans en twee vroue het om dagbreek met beskermende klere en asemhalingsapparate die eiland per helikopter bereik waar hulle ses van die agt oorledenes se liggame herwin het.

Dié liggame is na ’n nabygeleë skip gehys waarna dit na Auckland geneem is vir uitkenning. Dit word vermoed dat die liggame dié van Australiërs is wat ten tyde van die uitbarsting op die eiland was.

“Familielede het gejuig en hul blydskap en verligting uitgespreek,” het Wally Haumaha, adjunkkommissaris van die polisie, gesê. “Hulle geliefdes kom huis toe.”

Nog ’n herwinning is onderweg vir die twee liggame wat in die stadium op die eiland agtergebly het. Dié liggame is vermoedelik die van ’n toergids en ʼn bootkaptein van Nieu-Seeland.

Gemeenskapslede sing terwyl hulle wag vir die liggame om te kom van Witeiland. (Foto: Mark Bakerm AP)

Mike Bush, polisiekommissaris, het gesê polisieduikers is ontplooi om in die see rondom die eiland te soek en helikopters sal weer gebruik word in ’n poging om die liggame op te spoor.

“Ons glo wel dat ten minste een van die liggame in die water is. Ons is onseker van die ander liggaam, maar dit kan ook in die see wees. Ons sal voortgaan om na hierdie mense te soek,” het Bush verduidelik.

Giftige vulkaniese gasse het egter vanoggend steeds uit die krater op Witeiland geborrel en wetenskaplikes meen ’n soortgelyke uitbarsting as dié van Maandag kan moontlik voorkom.

Maroela Media het vroeër berig ’n vulkaan het Maandag op Witeiland, sowat 50 km noordoos van die Nieu-Seelandse kus, uitgebars. Agt mense is dood en nege is as vermis aangemeld. Dié mense het waarskynlik ook in die uitbarsting omgekom, het plaaslike polisie vandeesweek gesê.

‘n Militêre vliegtuig land Vrydagoggend by die Whakatane-lughawe nadat die liggame herwin is. (Foto: Mark Baker, AP)

Altesaam 47 mense was op die eiland toe die vulkaan uitgebars het. Meer as 30 is beseer waarvan die meeste brandwonde opgedoen het.

Australië het sedertdien verskeie van sy pasiënte na brandeenhede in hul tuisland gestuur. Verskeie spesialis- mediese spanne van Australië, Brittanje en Amerika is sedertdien na Nieu-Seeland gestuur om pasiënte te behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.