As en warm gruis het Vrydag op die Karibiese eiland St. Vincent gereën ná kragtige uitbarstings van ʼn vulkaan wat reeds jare lank onaktief is. Duisende paniekbevange inwoners het na veiligheid gevlug.
Die aanvanklike uitbarsting van La Soufriere, die hoogste piek in St. Vincent en die Grenadine, het Vrydagoggend wolke van warm as en rook 6 000 meter hoog in die lug opgeskiet, het die plaaslike noodbestuursagentskap gesê.
ʼn Tweede, kleiner uitbarsting het Vrydagmiddag plaasgevind.
“Die ontruiming van mense in die rooi en oranje sones na veilige gebiede duur in alle erns voort. Swaar asneerslae het die proses effens bemoeilik omdat sigbaarheid uiters swak is,” sê die nasionale noodbestuursorganisasie.
La Soufriere, Frans vir swaelmyn, is sowat 1 200m hoog. Dit het laas in 1979 uitgebars. Die grootste uitbarsting was meer as ʼn eeu gelede en het meer as ʼn duisend lewens in 1902 geëis.
Die vulkaan het maande lank gerammel voordat dit uitgebars het.
Dit kans is groot dat die uitbarstings dae of selfs weke lank kan voortduur, het wetenskaplikes aan die Universiteit van Wes-Indië in Trinidad en Tobago getwiet.
“As daar eers een uitbarsting is, is die kans goed dat nog kan volg,” het die universiteit se seismologiese navorsingsentrum gesê.
Die noodbestuursorganisasie het gewaarsku dat reën die as kan laat verhard en ʼn gevaar vir menselewens kan inhou.
Ontruiming
Eerste minister Ralph Gonsalves het laat Donderdag begin om bevele te gee dat inwoners in sogenaamde rooi sones, die tuiste van nagenoeg 16 000 mense op die grootste eiland in die groep, hul huise moet verlaat.
“Diegene in die rooi sones word ten sterkste aangeraai om persoonlike besittings te pak, hul huise en diere te beveilig en gereed te wees om dadelik die gebied te verlaat,” het die polisie in ʼn verklaring ná die uitbarsting gesê.
Zen Punnett, ʼn inwoner op die eiland, sê mense was Donderdagaand paniekbevange terwyl die bevele gegee is. Gemoedere het intussen heelwat bedaar.
#UPDATE A volcano has erupted for the first time in 40 years on the Caribbean island of #SaintVincent, prompting thousands of people to evacuate, seismologists say #LaSoufriere pic.twitter.com/J9rS9cmmAJ
— AFP News Agency (@AFP) April 9, 2021
“Ek kan die gerammel hier in die veilige groen sone hoor en voel. Ons kan ʼn groot bol rook ook sien. Ons bly so kalm as moontlik en bid,” het Punnett gesê.
Teen vroeg Vrydagmiddag het die meeste mense in die rooi sone reeds na veiligheid vertrek.
Twee passasierskeepsmaatskappye het reeds twee skepe gestuur om met die ontruimingsproses te help. Nog sal volg.
Philmore Mullin, direkteur van Antigua en Barbuda se nasionale kantoor vir rampdienste, sê die land is gereed om inwoners van St. Vincent te ontvang.
“Hulle gaan beslis doodbang wees. Die vraag is wat gaan gebeur nadat hulle verskuif word. Vulkane sê nie vir jou wat hulle dink nie.”
“As die uitbarstings geruime tyd lank duur, gaan dit hulle lewens verander. En afhangend van die soort uitbarsting gaan hulle dalk jare lank nie kan terugkeer huis toe nie.”
Alle polisielede en die bystandsmag op St. Vincent is intussen aangesê om dadelik vir diens aan te meld.
Dit moet angswekkend wees!
CO2! Climate change! Gretha Thunberg kom help!!!!!
Baie bly ek is nie daar nie! Angswekkend.
“in die laaste dae sal julle al hierdie dinge begin sien”
ook net omdat ons tv het