Vunipola erken hy het drankprobleem

Billy Vunipola tydens ‘n Wêreldbekerwedstryd teen Suid-Afrika verlede jaar. (Foto: Franck Fife/AFP)

Die Engelse rugbyster Billy Vunipola het aanvaar hy het ʼn probleem “om te weet wanneer om op te hou [drink]”, terwyl hy die omstandighede rakende sy drank-aangevuurde inhegtenisneming in Majorka probeer verduidelik het.

Die 31-jarige Vunipola het ʼn week gelede in die hof verskyn ná ʼn voorval in die vroeë oggendure by ʼn kroeg in die eiland se hoofstad Palma. Die polisie moes onder meer ʼn Tazer-skoktoestel gebruik om hom in bedwang te bring.

Die speler het ʼn openbare verskoning gemaak nadat hy in die hof met €205 (sowat R4 000) beboet is vir verset teen die gereg.

Vunipola het erken hy het weer vir die eerste keer sedert Augustus 2022 gedrink in afwagting van sy finale spanbousessie met Saracens, gegewe sy vertrek by die Londense klub aan die einde van die seisoen.

“My probleem is dat ek net nie weet waar om op te hou nie en dis seker hoekom ek so lank opgehou drink het,” het Vunipola in ʼn onderhoud met die Britse Daily Mail gesê.

“Ek was nog nooit net ʼn geleentheidsdrinker nie. Wanneer ek drink, is dit tot op ʼn punt waar ek waarskynlik vergeet wat ek gedoen het.

“Dit is die rede hoekom ek opgehou het. Die rede hoekom ek verlede naweek gedrink het, was omdat dit my laaste reis saam met die ouens was en ek dit regtig wou geniet. Maar ek het duidelik te ver gegaan.

“Ek is al 11 jaar lank by die klub en ek doen die hele tyd simpel goed, maar dit lyk altyd of hulle my vergewe en my aanvaar vir wie ek is. Ek dink dit is omdat hulle weet hierdie goed is deel van my persoonlikheid – om weg te breek en te rebelleer.”

Vunipola hou vol dat hy nie kan onthou dat veiligheidswagte hom gevra het om die Epic-kroeg te verlaat nadat hy sy top uitgetrek het nie. Dit het gelei tot die polisie wat ontbied is. Hy het ook ontken dat hy enige dreigende houding teenoor ander klante gehad het.

Die sterk losvoorspeler sê ʼn ligte besering aan een van die betrokke polisiebeamptes was bloot ʼn ongeluk nadat hy gebeur het teen die kabelbinders wat om sy hande geplaas is.

Beeldmateriaal wys hoe Vunipola steeds staan nadat hy die eerste keer met die Tazer-toestel geskok is. ʼn Tweede skoot het hom laat ineensak.

“Ek het twee merke op my. Iemand het vir my gesê mense met meer spiere word erger geraak deur ʼn Tazer as ander. Ek reken ek was gelukkig dat ek ʼn bietjie meer maag het, want ek het dit nie so erg gevoel nie.

“Selfs toe ek op die grond was, was hulle geskok dat ek nog die energie gehad het om teen hulle te baklei. Wel, nie baklei nie, my teë te sit. Dit is wat my ingehaal het.”

Vunipola sal Saracens na verwagting aan die einde van hierdie seisoen verlaat en word onder meer verbind met die Franse klub Montpellier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Sterk man daai. Die voggies laat hom nog sterker voel , natuurlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.