Vuurpyle op lughawe in Kaboel afgevuur

Lede van die Taliban ondersoek die skade aan ‘n motor naby die lughawe in Kaboel nadat ‘n IS-voorbereide bom in die motor vernietig is. (Foto: Wakil Kohsar / AFP)

Vuurpyle is Maandagoggend op die lughawe in Kaboel afgevuur waar Amerikaanse troepe nou inderhaas die land se bondgenote probeer help om die land te verlaat en die VSA se onttrekking uit Afghanistan te voltooi.

Alle Amerikaanse troepe moet Dinsdag amptelik uit Afghanistan wees ingevolge pres. Joe Biden se sperdatum van 31 Augustus. Die laaste ontruimingsvlug uit die land vertrek ook dan.

Twee beweerde aanvalle op die lughawe is die afgelope 24 uur afgeweer te midde van vrese dat die Islamitiese Staat (IS) weer kan toeslaan nadat lede verlede week ʼn selfmoordbomaanval in die omgewing van die lughawe uitgevoer het.

Amerikaanse magte het Sondagaand ʼn lugaanval in Kaboel op ʼn IS-voorbereide motorbom enkele kilometers van die lughawe gedoen.

Vanoggend is vuurpyle op die lughawe afgevuur.

ʼn Amptenaar van die Taliban vermoed altesame vyf vuurpyle is afgevuur, maar deur die lughawe se missielverdedigingstelsels vernietig. Geen sterftes of skade aan die lughawe is aangemeld nie en ontruimingsoperasies kon volgens die Withuis “ononderbroke” voortgaan.

Meer as 120 000 mense het Afghanistan reeds verlaat nadat die Taliban meer as twee weke gelede beheer oor die land oorgeneem het.

Amerikaanse magte is egter nou daarop gefokus om hulself en Amerikaanse diplomate veilig uit Afghanistan te onttrek voor die sperdatum verstryk.

Inwoners van Kaboel sê intussen hulle is getraumatiseer ná die afgelope paar weke se gebeure.

“Sedert die Amerikaners beheer oor die lughawe oorgeneem het, kan ons nie behoorlik slaap nie,” het Abdullah, wat naby die lughawe woon en slegs een naam gegee het, aan AFP gesê.

“Dit is óf vuurwapens, vuurpyle en sirenes, óf die klank van groot vliegtuie wat ons steur. En noudat hulle direk geteiken word, kan dit ons lewe in gevaar stel.”

Daar word berig dat Sondag se aanval op die IS-voorbereide motorbom moontlik die lewe van burgerlikes geëis het.

“Ons is bewus van berigte van burgerlike sterfgevalle ná ons aanval op ʼn voertuig in Kaboel vandag,” het kapt. Bill Urban, ʼn Amerikaanse woordvoerder, Sondag in ʼn verklaring gesê.

“Ons sal diep bedroef wees oor enige onskuldige lewensverlies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Hoop al die buitelanders in Afghanistan neem die waarskuwing ernstig op en wag nie tot nr 99 nie. Daai ouens is ongeduldig en ek sou eerder vroeer as later gegaan het

Nie Verbaas ·

Hulle is diep bedroef oor onskuldige lewens wat verloor is? Siestog, Biden sit seker heeldag en huil. Dit is sy skuld. Sekerlik nie die slimste man op aarde nie.

gpsa ·

Hoop VSA skerp hulle eie sekuriteit skerp op, so ook ander lande wat die laaste 20 jaar teen die Taliban geveg het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.