VW-hoof bedank te midde van skandaal oor uitlaatgasse

Martin Winterkorn. Foto: Wikimedia/VW

Martin Winterkorn. Foto: Wikimedia/VW

Martin Winterkorn, hoof van Volkswagen, het sy bedanking aangekondig te midde van bewerings dat Volkswagen gekul het met gasuitlatingstoetse.

“Ek is geskok oor die gebeure van die afgelope paar dae. Bowenal is ek geskok dat wangedrag op so groot skaal moontlik was in die Volkswagen-groep,” het Winterkorn in ʼn verklaring gesê.

“As uitvoerende hoof aanvaar ek verantwoordelikheid vir die ongerymdhede wat in dieselenjins gevind is en daarom het ek die toesigraad versoek om in te stem tot die beëindiging van my funksie as uitvoerende hoof van die Volkswagen-groep. Ek doen dit in belang van die maatskappy, al is ek nie bewus van enige verkeerde optrede aan my kant nie.”

Winterkorn se bedanking volg nadat Volkswagen erken het dat hy jare lank gekul het met toetse vir lugbesoedeling. Sagteware is glo in van die Duitse voertuigvervaardiger se voertuie geïnstalleer wat net sekere kontroles aangeskakel het om lugbesoedeling te meet wanneer die voertuie amptelike toetse ondergaan het.

Winterkorn het gesê die proses van verduideliking en deursigtigheid moet voortgaan. “Dit is die enigste manier om vertroue terug te wen. Ek is oortuig daarvan dat die Volkswagen-groep en sy span hierdie ernstige krisis te bowe sal kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Wat ‘n voorbeeld vir ons regering en zuma. Aanvaar verantwoodelikheid, doen rekenskap en betasl die prys…..al is dit dan net vir jou onkunde!

Sue ·

Toemaar wat, niemand is te na gekom deur die optrede van VW nie. As ek kyk in Suid Afrika na sommige vragmotors en voertuie se rook wat eindelik uit borrel dat mens verstik , is die fout van julle niks nie

Dup du Plessis ·

Ja maar ons moet darem onthou dat Duitsland nie ‘n Jan van Riebeeck gehad het nie, dus moes Martin Winterkorn maar self die slae vat.

Peet Schabort ·

Dit laat my jare terug dink aan my Kewer. Daar was ook die advertensie met die woorde:
“Volkswagen Volkswagen dartel heen en weer;
Haastig op die grootpad, rats in stadsverkeer;
Staatmaker ryding, laat die brandstof só lank hou;
Jy sal vind die VW is net die kar vir jou.
Dan ook die grappe soos: Die twee uitlaatpype dat jy hom soos ‘n kruiwa kan stoot wanneer hy gaan staan.
Ook die twee miskruiers wat luister na die VW-kewers wat verbysnel met hulle kenmerkende pfoerrrrrrrrr-geluide en die een vir die ander sê: “Dit bly net ‘promises’ en verder gebeur daar niks”.
Vroeër modelle se kopligte het ook skuins na bo gekyk want dan kon die VW ook betyds die opdraande sien om voor die tyd spoed te kon vermeerder om makliker bo uit te kom.
Spruite in vloed het my en my Volla ook nie gekeer. Wanneer ‘ons’ anderkant uitkom deur die massa water dan het die opdrifsels op die ruitveërs gelê.
Onbekend met Oliviershoekpas (dit was nog ‘n grondpad) het ek as pasgetroude en vroutjie die nag deur die Tugela-rivier ‘geswem’ sonder dat ons geweet het die pad was gesluit vir selfs viertrekvoertuie. Die rivier was in vloed en die donker goed wat lyk soos krokodille was boomstamme wat ons gesien het in die 6-volt ligte van die Volla wat stroomaf dryf.
Met ‘n pap battery en nie by magte om die Volla te stoot het ek die agterwiel opgedomkrag, klip om wiele te stop, tweede rat gekoppel, ontsteking (ignition) aan en die agterwiel ‘n draai gegee waarna die Volla soos blits gevat het terwyl omstanders net hulle koppe geskud het.
Daar is nog baie staaltjies soos tydrenne met die Volla maar dit daar gelaat.
Wonderlike Volla-dae met ‘n motor wat ek groot respek voor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.