Vyf bedreigde ape doodgeskiet

Grys slankape ter illustrasie. (Foto: Singapore Straits Times/AFP)

ʼn Onbekende aantal stropers het verlede week vyf bedreigde ape in Viëtnam doodgeskiet, vermoedelik vir hul vleis of om tradisionele medisyne mee te maak.

Wildbewaarders en polisiebeamptes het op die dooie grys slankape afgekom terwyl hulle die woude in die Quang Ngai-provinsie gepatrolleer het.

Die vermeende stropers het glo te voet gevlug nadat owerhede hulle met die ape betrap het. Die verdagtes het onder meer ʼn motorfiets, 53 koeëls en klankdempers op die toneel agtergelaat.

Plaaslike owerhede is besig om die saak te ondersoek.

Hierdie primate is in Viëtnam se rooi lys opgeneem, wat beteken dat dit onwettig is om dié diere dood te maak.

Dit is ook ʼn erg bedreigde spesie en is deel van die hoogste risikokategorie ingevolge die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES).

Hierdie soort slankape is egter gereeld slagoffers van die onwettige dierehandelbedryf en is dikwels gesog vir die vleis, in die troeteldierhandel of om tradisionele medisyne mee te maak. Hulle word ook deur grootskaalse ontbossing bedreig.

Volgens die bewaringsgroep Fauna and Flora International (FFI) is daar minder as 1 000 van dié ape wêreldwyd oor en word hul habitat tot die woude van Sentraal-Viëtnam beperk.

“Owerhede moet diegene wat verantwoordelik is hiervoor opspoor en aan die pen laat ry,” sê Ha Thang Long, direkteur van GreenViet. GreenViet beywer hom om biodiversiteit in die sentrale streke van Viëtnam te bewaar.

“As owerhede nie daarin slaag om die skuldiges vas te trek nie, sal dit net aanhou gebeur.”

Ingevolge die Viëtnamese wet kan stropers tot sewe jaar tronkstraf opgelê word indien hulle skuldig bevind word.

Viëtnam is een van die lande met van die wêreld se mees bedreigde spesies, waaronder die Rooirivier se reuse-sagtedopskilpad, die Tonkin-aap en die saola, ʼn soort bergagtige bok.

Wilde diere word voortdurend in hierdie land bedreig en dele van dié diere is veral in groot aanvraag in onwettige bedrywe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Wat gaan die mens doen, eet en na kyk, as hy al die aarde en see se dier en vis lewe uit gewis het? Dan begin ons mekaar jag en eet!

Werner ·

Dit is sleg.Maar regtig is dit van enige belang met wat hier aangaan.Kan julle van baie erger nuus voorsien hoe die wild hier by ons uitgeroei word.En as jy as boer iets daaromtrent doen word jy vervolg.

Elinette ·

Maak nie saak WAAR stroping van alreeds-ernstig bedreigde spesies voorkom nie, dit is steeds onaanvaarbaar. Wat maak dit saak of dit ‘n wit renoster is wat geskiet word vir die horing of dit nou ‘n slankaap is, wat geskiet is vir vleis? Die mens is verantwoordelik vir die uitwissing van TALLE spesies.

Papsak ·

Ja daar gaan erger dinge in die land aan hoekom diere nou ook uitwis belaglik lyk my hier moet niks meer lewe he nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.