Vyf dood ná motor in Duitse inkopiestraat in skare inploeg

Foto: Jean-christophe Verhaegen / AFP

Vyf mense, onder wie ’n nege maande oue baba, is dood en 14 ander beseer nadat ’n motoris Dinsdag deur ’n skare inkopiegangers in ’n straat in die Duitse stad Trier geploeg het.

Plaaslike staatsaanklaer Peter Fritzen sê die bestuurder van die motor is ’n 51-jarige inwoner van Trier wat vermoedelik aan ’n geestesversteuring ly. Die bestuurder was na bewering onder die invloed van alkohol ten tyde van die voorval.

Volgens die polisie het die bestuurder van die motor tussen 600 m en ’n kilometer ver in die inkopiestraat gery en ’n spoor van vernietiging agtergelaat.

Die bestuurder is in die straat in hegtenis geneem en word intussen ondervra. Die polisie sê daar is “geen aanduidings van ’n politieke motief” nie. Daar word tans oorweeg om die bestuurder in psigiatriese sorg te plaas.

Foto: AFP

“Ek dink dit is Trier se donkerste dag sedert die Tweede Wêreldoorlog,” het die stad se burgemeester, Wolfram Leibe, ná die voorval gesê.

Trier is in Duitsland se Mosel-wynstreek naby die Luxemburgse grens geleë.

Van die ander oorledenes sluit in twee vroue, onderskeidelik 25 en 73 jaar oud, asook ’n 45-jarige man. Die Duitse polisie het nog geen besonderhede oor die vyfde slagoffer bekend gemaak nie.

Die baba se ma is in die voorval beseer en word tans in ’n hospitaal behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Gelukkige bestuurder. Hier in SA dink ek nie hy sou lewend die toneel verlaat het nie!

Yvonne ·

Ag twak, Duitse media sal nooit die waarheid erken nie. Ek glo dit is wel polities gemotiveerd. Is dit dalk sy sielsiekte, aangehelp deur ‘n oormaat drank?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.