Vyf dood ná swaardaanval by dagsorgsentrum

Die nooddienste en omstanders Dinsdag buite die Aquarela-dagsorgsentrum in Saudades, Brasilië. (Foto: Jocimar BARBOSA / Impresa do Povo / AFP)

’n 18-jarige man, gewapen met ʼn tipe samoerai-swaard, het Dinsdag by ʼn dagsorgsentrum in die suide van Brasilië ingestorm en drie kinders en twee personeellede doodgesteek.

Die aanvaller het daarna sy wapen op homself gerig en homself in die nek, bolyf en buik gesteek. Hy is in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal vervoer vir mediese behandeling.

Die voorval het Saudades, ʼn dorpie met ’n bevolking van sowat 10 000 in die staat Santa Catarina, geskok gelaat.

Leonardo Ecco, ’n plaaslike nooddienswerker, sê die brandweer is gister by hul aankoms deur ’n “uiters wrede” toneel begroet. “Daar was al kinders en ’n werknemer dood,” het Ecco aan verslaggewers gesê.

’n Werknemer van die dagsorgsentrum, Aline Biazebetti, was in haar huis naby die sentrum ten tyde van die voorval. “Ek het ’n geskree en hulpkrete gehoor. Ek het vir my pa gesê: ‘Daar gaan iets aan by die dagsorg.’ Ek het na buite gegaan en gesien hoe my kollegas om hulp roep: ‘Bel asseblief die polisie, ʼn gewapende man het ingekom en vermoor die kinders’.”

Volgens Biazebetti het sy die polisie gebel en personeellede het met ʼn gewonde kind uit die dagsorgsentrum gehardloop. Sy en haar pa het die kind na ʼn hospitaal gehaas.

Die kinders se ouderdomme is nie bekend gemaak nie. Plaaslike media berig die dagsorgsentrum sien om na kinders tussen ses maande en twee jaar oud.

Jeronimo Marcal Ferreira, plaaslike polisiehoof, het buite die dagsorgsentrum aan verslaggewers gesê ’n vierde kind het ligte wonde tydens die aanval opgedoen.

Brasiliese owerhede het nie ’n motief vir die voorval bekend gemaak nie en gesê die aanvaller het geen kriminele rekord nie.

Goewerneur Daniela Reinehr het intussen drie dae van rou in die staat Santa Catarina verklaar.

Die laaste dodelike skoolaanval in Brasilië was in Maart 2019 toe twee voormalige studente agt mense doodgeskiet het voordat hulle hulself by ʼn hoërskool in die suidoostelike stad Suzano, naby Sao Paulo, om die lewe gebring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adri ·

Hoe siek moet jy wees om babas en kleuters sonder rede te vermoor?

Noels244 ·

Ek weet nie eers wat om te se nie, so skokkend is hierdie berig. Wat besiel iemand om so iets te doen?

Fritz ·

Jy het nie ‘n vuurwapen nodig om mense te vermoor nie. Om alle vuurwapens te verbied gaan nie massa moorde verhoed nie!

Maggies ·

Ek is beslis nie ‘n doemprofeet nie. Dit raak al hoe moeiliker en erger om in hierdie bose wêreld te oorleef. Net nog ‘n bewys dat Satan nou haastig raak.

Charl ·

Dis gewoonlik die onskuldiges en weerloses wat die hoogste prys betaal en dít só onnodig. Absoluut hartverskeurend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.