Vyf jaar ná brand verrys Notre Dame uit die as

Brandskilderglasvensters te sien binne die Notre Dame-katedraal in Parys wat restoureer moet word ná ʼn verwoestende brand op 15 April 2019 (Foto: Mathilde Bellenger/AFP)

Vyf jaar ná die Notre Dame-katedraal deur ʼn brand verwoes is, het dit na sy voormalige glorie teruggekeer, maande voor die beplande opening vir die publiek.

Die brand by die Unesco-gelyste katedraal, wat in ʼn stadium tot 12 miljoen besoekers per jaar gehad het, het die wêreld op 15 April 2019 geskok gelaat.

Die Notre Dame se binnekant is tans op sy skitterendste in menslike heugenis, meen onlangse besoekers aan die katedraal.

“Dis wonderlik om hierdie kleure te sien wat heeltemal verdwyn het,” het Guillaume Normand, viserektor van die Notre Dame, gesê toe hy die volledig gerestoureerde kapel besoek het. “Absoluut pragtig,” het hy aan AFP gesê.

Wanneer die publiek in Desember na die katedraal terugkeer, sal hulle ʼn “ongeëwenaarde persepsie van sy dimensie” kry, het die katedraal se rektor, Olivier Ribadeau Dumas, bygevoeg. Hy het gesê hy staan “nederig” in die aangesig van “diegene wat dit bewaar of gespaar het, en diegene wat dit nou restoureer”.

Werk duur voort om die sperdatum in Desember te haal vir die heropening, het die hoof van konstruksie verlede maand gesê.

Die monument het in Februarie reeds ʼn belangrike oomblik beleef toe steierwerk rondom die spits afgebreek is. Owerhede sê dit sal ten volle sigbaar wees teen die tyd dat die Parys Olimpiese Spele in Julie begin.

Die spits is met lood bedek, ʼn materiaal wat groot debat uitgelok het weens die moontlike giftigheid daarvan.

R17 miljard in skenkings

Die katedraal het in Desember sy groot kruis teruggekry, met ʼn nuwe goue hoenderhaan om die een wat in die brand verwoes is, te vervang.

Pres. Emmanuel Macron het aanvanklik beloof dat die gebou ten volle gerestoureer sal wees teen die tyd dat die Olimpiese Spele begin, maar die sperdatum is aangeskuif toe konstruksiewerk ʼn paar probleme ondervind het.

Owerhede het nog steeds nie die oorsaak van die brand bepaal nie, alhoewel hulle glo dit was ʼn ongeluk.

ʼn Fondsinsamelingsveldtog binne ure ná die brand het skenkings van meer as €846 miljoen (byna R17 miljard) gelok.

Restourasiewerk duur al sedert 2019 deurlopend voort, buiten ʼn paar weke tydens die Covid-krisis.

Alle kernteikens van die restourasie is gehaal, het Philippe Jost, president van die Herbou Notre Dame de Paris-organisasie. Die herbou van die ruim, met hout van sowat 1 000 bome wat spesiaal van Franse woude gekies is, was die moeilikste, aldus Jost.

Sowat 250 maatskappye en honderde vakmanne, argitekte en ander professionele persone was betrokke by die restourasie.

Die katedraal se orrel, wat nie deur die brand beskadig is nie maar met loodstof bedek is, is ten volle skoongemaak. Dit sal egter ses maande van harmonisering beteken voor die 8 000 pype weer hul volle klankpotensiaal bereik.

Natuurlike lig in die katedraal skyn tans op sy helderste in mense heugenis ná die skoonmakery, het Jost gesê.

Die dakwerk oor die ruim, koor en spits is van die werk wat nog in die somer afgehandel moet word, asook restourasie aan die vloer en meubels.

Frankryk het reeds aansoeke versoek vir die skep van moderne brandskilderglas vir die Notre Dame. Aflewering word in 2026 verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Helena ·

Dit wil gedoen wees….. Beplanning en Strategie … Well done!

Ronél ·

Blye nuus…………..’n merwaardige histories landmerk om te besoek en te beleef.

Heinrich ·

Wys jou as die ANC nie betrokke is nie, voor die tyd klaar en al die geld terug geploeg in die projek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.