Vyf kry doodstraf ná moord op joernalis

‘n Foto van Jamal Khashoggi staan in die voorgrond terwyl ‘n video waarin sy verloofde, Hatice Cengiz, gesien kan word in die agtergrond speel. Foto: (AP Photo/J. Scott Applewhite, File)

Vyf mense is in Saoedi-Arabië ter dood veroordeel vir die moord op die joernalis Jamal Khashoggi.

Die moord op Khashoggi, ʼn joernalis van The Washington Post en bekende kritikus van die Saoedi-regering, in Oktober 2018 het skokgolwe reg oor die wêreld gestuur. Khashoggi is in Saoedi-Arabië se konsulaat in Istanboel, Turkye, deur ʼn span Saoediese agente vermoor.

Daar word geglo Khashoggi se ledemate is afgekap waarna sy oorskot na ʼn onbekende plek geneem is. Daar is ook bewerings dat sy oorskot in suur opgelos is. Khashoggi het die konsulaat binnegegaan om huweliksdokumente te bekom terwyl sy verloofde, Hatice Cengiz, buite gewag het. Hy het nooit weer uitgekom nie en sy oorskot is nooit gevind nie.

Nog drie mense is tronkstraf opgelê weens die moord. In totaal was daar 11 verdagtes wat tereg gestaan het vir die moord. Hulle name is nooit bekend gemaak nie. Die verhore is amper geheel en al in geheim gehou met slegs ʼn paar diplomate en familielede van Khashoggi wat dit kon bywoon.

Die Amerikaanse intelligensiediens het voorheen gesê kroonprins Mohammed bin Salman het die opdrag gegee dat Khashoggi vermoor moet word. Hy het dit egter ten sterkste ontken, maar gesê as leier neem hy daarvoor verantwoordelikheid.

Die Verenigde Nasies (VN) het bevind die moord op Khashoggi is deur Saoedi-amptenare beplan en uitgevoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.