Vyf gevangenes is dood toe ʼn brand ontstaan het tydens oproerigheid in ʼn tronk in die weste van Indonesië.
Die gevangenes het oproerig geraak toe narkotikabeamptes Vrydagaand die sel van ʼn veroordeelde dwelmbaas by Malabero-gevangenis in Bengkulu deursoek het, het die plaaslike Liputan6 berig.
Beamptes het glo beslag gelê op ʼn sak metamfetamien en het die gevangene weggeneem, waarna honderde gevangenes oproerig geraak en uit hul selle gebreek het.
Die brand het vermoedelik in die sel ontstaan wat deursoek is.
Meer as 250 gevangenes is ontruim en na naburige tronke geneem, maar vyf gevangenes het verkool. Die brand is ná middernag geblus.
“Ons ondersoek elke gevangene om te bepaal wie die meesterbrein was wat die oproerigheid begin het,” het Ardian Indra Nurinta, Bengkulu-polisiehoof, gesê.
Tronke in Indonesië is gewoonlik oorvol en dwelmhandelaars kan gewoonlik hul bedrywighede voortsit ondanks die land se verskerpte pogings om dwelmhandel te bekamp.