Vyf vermiste skiërs dood gevind

(Foto: Valais-polisie/AFP)

Vyf van die ses skiërs wat die naweek in die Switserse Alpe vermis geraak het, is dood gevind.

Daar word nog na die sesde skiër gesoek. Die groep skiërs, tussen 21 en 58 jaar oud, het Saterdag die luukse ski-oord Zermatt verlaat met die doel om die klein dorpie Arolla later daardie dag te bereik, maar het nooit daar opgedaag nie. Die groep sluit vyf lede van dieselfde gesin in.

Die weerstoestande was “katastrofies” met vriesende temperature en ’n aansienlike risiko vir sneeustortings, het Christian Varone, hoof van die polisie in Valais, gesê.

’n Persoon wat die groep in Arolla sou oplaai, het Saterdag kort ná 16:00 alarm gemaak. ’n Uur later het ’n lid van die vermiste groep daarin geslaag om die reddingsdienste per selfoon te bereik, wat hulle in staat gestel het om vas te stel waar om na die skiërs te soek.

Varone het gesê reddingswerkers het alles in die stryd gewerp om die groep betyds te bereik, maar dat die haglike weerstoestande verhoed het dat helikopters en reddingspanne die gebied kon bereik.

“Ons het die onmoontlike probeer,” het hy gesê en bygevoeg die reddingswerkers is gedwing om om te draai om te verhoed dat hul lewens in gevaar gestel word. “Soms moet jy voor die natuur buig.”

’n Span bestaande uit twee reddingswerkers, ’n dokter en ’n bergpolisiebeampte, kon uiteindelik Sondag met ’n helikopter in die gebied waar die skiërs vermis geraak het, afgelaai word en daar is op die liggame afgekom.

Die polisie het nog nie die identiteit van die oorledenes bekend gemaak nie, en het net gesê dat die vyf familielede van Valais is en die sesde persoon van Fribourg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Sjoe…. wat ‘n hartseer manier om’ n hele Familie te verloor.

Niklaas ·

Dit klink asof die groep swak voorberei was vir daardie minus 30 grade yskoue toestande . Die beplanning en aanpak van hierdie tog was mos nie iets nuuts vir daardie mense nie. Hulle was glo woonagtig in ‘n buurland en gewoond aan sulke toestande..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.