Waaghals sterf tydens wêreldrekord-oefenlopie

Alex Harvill. (Foto: Instagram)

Die Amerikaanse motorfietswaaghals Alex Harvill is die week dood tydens ’n oefenlopie om ’n wêreldrekord te verbeter.

Die 28-jarige Harvill het Donderdag ’n oefenlopie gehou by die Moses Lake-lugskou in die Amerikaanse deelstaat Washington om die rekord vir die verste afstand wat met ’n motorfiets gespring word, te verbeter. Die rekord is tans 107 meter en is in 2008 opgestel.

Harvill het met sy motorfiets teen die boonste rand van ’n sandheuwel, wat hy as landingstrook gebruik het, gebots.

Alex Harvill en sy vrou, Jessica, op hul troudag. (Foto: Instagram)

Volgens plaaslike mediaberigte is Harvill van sy motorfiets afgeslinger. Hy het later in ’n hospitaal aan sy beserings beswyk en ’n nadoodse ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Harvill sou kort na die oefenlopie sy rekordpoging aandurf. Die pa van twee het reeds ’n soortgelyke wêreldrekord agter sy naam gehad nadat hy in 2015 nagenoeg 91 meter ver met sy motorfiets gespring het in ’n ander kategorie.

Harvill laat sy vrou, Jessica, en hul twee seuns, Willis (4 jaar) en Watson, agter. Volgens berigte is Watson vier weke terug gebore.

‘n Skarefinansieringsblad is intussen vir Harvill se gesin begin en teen Saterdagoggend was daar reeds meer as $70 000 ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Ek weet nie. Dis vir my moeilik om te simpatiseer met iemand wat ‘n lewe maak deur sy/haar lewe op die spel te plaas daarvoor. Ek sê maar net.

JM ·

Só tragies en eintlik onnodig! Hy het willens en wetens sy lewe op die spel geplaas. Nou word die twee seuntjies sonder hul pa groot.

Onnie ·

Dis baie hartseer, maar… Wie gaan doen so iets as jy weet jy het n hulpelose 4 weke oue seuntjie wat op jou staatmaak, en n vrou en 4jarige daarby. Ek dink, vir n pa, het hy baie onverantwoordelik opgetree.

Danie ·

Uiters onnosel van hom om nie te dink aan die welstand van sy familie nie.
Hopenlik het sy weduwee n ondersteuningsnetwerk en sal sy die mas kan opkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.