Waarskuwing aan Instagram-gebruikers uitgereik

Instagram (Foto: Pixabay)

Instagram het gebruikers vandeesweek gewaarsku teen kuberkrakers wat glo sedert die begin van Augustus onwettig toegang tot sowat ses miljoen Instagram-rekeninge verkry het.

Die maatskappy het verlede maand in ʼn verklaring gesê slegs bekende persone met hoë profiele word deur dié kuberkrakers geteiken, maar moes intussen ʼn nuwe verklaring uitreik nadat dit aan die lig gekom het dat miljoene ander rekeninge óók deurgeloop het.

Die Amerikaanse sangeres Selena Gomez was glo een van die eerste “hoë-profiel-gebruikers” om deur die kuberkrakers geteiken te word. Die kuberkrakers het onder meer toegang verkry tot Gomez se rekening, al haar foto’s uitgevee en naakfoto’s van die sanger Justin Bieber gedeel.

Bianca Gardella, ʼn woordvoerder van die sagtewaremaatskappy Eset Suid-Afrika, sê die kuberkrakers, wat glo as Doxagram bekend staan, maak gebruik van ʼn virus in die app se programkoppelvlak (API) in sagteware om onwettig Instagram-gebruikers se selfoonnommers en e-pos-adresse te bekom.

Gardella sê die kuberkrakers het private inligting van sowat ses miljoen gebruikers gesteel. Dié inligting kan onder meer aan advertensiemaatskappye verkoop word.

Doxagram het intussen ʼn webwerf begin waarop bekendes se persoonlike inligting vir $10 (sowat R130) verkoop word.

Mike Krieger, hoof van Instagram se tegnologie-afdeling, het in die verklaring gewaarsku dat gebruikers waaksaam moet wees vir enige “vreemde aktiwiteite” op die platform. “Ons moedig alle gebruikers aan om enige ongewone aktiwiteit op hul eie rekeninge of op Instagram by ons aan te meld,” sê Krieger.

Volgens Eset tel pres. Donald Trump van die VSA se amptelike rekening ook onder dié wat onder die kuberkrakers deurgeloop het.

Instagram het in 2016 en weer vroeg vanjaar onder kuberkrakers deurgeloop nadat ʼn ander maatskappy bekendes se rekeninge gebruik het om gebruikers se persoonlike inligting te bekom. Die kuberkrakers het hulself as ʼn bekende, soos byvoorbeeld Britney Spears, voorgedoen, en kommentaar op foto’s gelewer. Sodra die gebruiker daarop geklik het, het ʼn virus persoonlike inligting gesteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.