Wag teken oë op duur skildery

Die oorspronklike skildery deur Anna Leporskaya (links) en met die getekende oë (regs)

ʼn Russiese galery sê een van sy veiligheidswagte word daarvan beskuldig dat hy ʼn 20ste eeuse avant-garde-kunswerk beskadig het, nadat hy met ʼn pen oë op die abstrak skildery geteken het.

Die skildery deur Anna Leporskaya, ʼn student van die legendariese kunstenaar Kazimir Malevich, is gevandaliseer terwyl dit op uitstalling was by die Jeltsin-sentrum in Jekaterinburg.

Die skildery, “Drie figure”, dateer uit die 1930’s en is vir 75 miljoen roebels (sowat R14,7 miljoen) verseker. Oë is met ʼn balpuntpen op die twee gesiglose figure geteken.

Die Jeltsin-sentrum se waarnemende direkteur, Alexander Drozdof, het gesê die oë is op die skildery geteken deur “ʼn werknemer van ʼn privaat sekuriteitsmaatskappy”.

Die versekeringsmaatskappy en die hoof van Moskou se Tretjakof-galery het die skildery aan die Jeltsin-sentrum geleen en is “onmiddellik in kennis gestel”.

Die skildery is verwyder en aan Moskou teruggestuur. Dit is intussen ten volle gerestoureer.

Anna Reshetkina het aan die nuuswebwerf Ura.ru gesê dit was die veiligheidswag se eerste dag by die werk. “Ons is onseker wat hy gedink het,” sê sy.

Die Jeltsin-sentrum het vroeër ontken dat sy werknemers betrokke was. Die galery het aanvanklik laat in Desember die voorval aangemeld, maar die polisie wou nie ondersoek instel nie. Hulle het gesê die skade, sowat 250 000 roebels (byna R50 000) is “nie beduidend nie”.

Ná die ministerie van kultuur egter ʼn klag aanhangig gemaak het by staatsaanklaers, het Jekaterinburg se polisie ʼn saak van vandalisme ondersoek.

Die identiteit van die veiligheidswag is nie bekendgemaak nie. Hy kan ʼn boete of drie maande tronkstraf opgelê word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

VaalDonkie ·

Niemand hou van kommuniste se “kuns” nie. Welgedaan aan die man.

ABDP ·

Ek sou ook oë geteken het. Dit maak net absoluut sin vir my :)

LD ·

Ek kan nie help om te lag nie! Dit klink soos ñ kind wat dit snaaks gevind het dat die mannetjies nie ogies het nie en toe besluit dat daar ogies moet opkom en dit toe sommer opgeteken het????

Delia ·

In elk geval belaglik Dat skildery soveel werd is. Daars groot fout in ons samelewing

Anchin ·

Dink ook die ogies lyk oulik. Wonder net hoekom verskil die hele portret eintlik van die oorspronklike? Die oorspronklike het n geel kol onder, en die swart se vorm is heelwat anders? Enigiemand wat kan verklaar?

Misky ·

Dis skreeusnaaks en ek dink dadelik aan die Mr Bean fliek, ha ha ha!!

Marthina79 ·

Dis soos om jou vinger deur die clingwrap van n pakkie groente te druk. Jy weet jy moenie maar jy kan nie dit keer nie. :-D

Andries ·

Seker Mr. Bean gekyk of hy rook onwettige sigarette? Gelukkig het hy nie self probeer om dit reg te maak nie……

Mieke ·

Was dit vir die persoon dalk onweerstaanbaar om, agv verveeldheid, oë op die skildery in te teken???

ES ·

Jammer vir die kunstenaar, maar dis vrek snaaks – die getekende ogies pas nogal goed!

Nommer 7 ·

Ek vermoed die skildery se prys gaan nou styg. Dit het al in die verlede gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.