Waghondorganisasie sleep Viagogo hof toe

Nieu-Seeland se handelskommissie het by ʼn toenemende getal waghondorganisasies wêreldwyd aangesluit om die omstrede Switserlandse kaartjieverkope platform Viagogo hof toe te sleep op aanklag dat hulle verbruikerswetgewing oortree.

Die kommissie het meer as 500 klagtes oor die maatskappy ontvang en het Dinsdag sy saak aan die Nieu-Seelandse Hooggeregshof voorgehou. Volgens die kommissie het Viagogo die verbruikerswetgewing oortree en hulle versoek ʼn bevel om die maatskappy te verhoed om verder die wet te oortree.

Die kommissie beskuldig die maatskappy daarvan dat hy misleidende bewerings maak dat kaartjies byna uitverkoop is; dat verkeerde pryse vir kaartjies geadverteer word; en dat hulle beweer hulle kan die geldigheid van kaartjies waarborg, terwyl hulle dit nie kan doen nie.

Sue Chetwin, uitvoerende hoof van die niewinsgewende organisasie Consumer NZ, het Dinsdag aan Radio New Zealand gesê die maatskappy is baie moeilik om mee te kommunikeer. “Dis byna onmoontlik om enigiemand by Viagogo te kry met wie mens kan praat as iets skeefloop. Hulle is in Switserland gebaseer en is baie geheimsinnig,” het Chetwin aangevoer.

Dit was ʼn goeie idee om ʼn plek te hê waar mense kaartjies kan verkoop wat hulle nie meer wil hê nie, “maar Viagogo het dit nou in ʼn internasionale onderneming omskep en in sommige omstandighede kom die verkope van die kaartjies op bedrog neer”, het sy bygevoeg.

Uitspraak word voorbehou.

Die maatskappy word ook in Switserland, Duitsland, Frankryk, Engeland en Australië in die hof gedaag.

Talle Suid-Afrikaners het na bewering ook al ʼn bloutjie geloop met die maatskappy wat ongeldige kaartjies vir plaaslike vertonings teen buitensporige pryse aangebied het.

Maroela Media het vroeër berig Lefra Produksies, vervaardiger van die musiekspel Buddy – The Buddy Holly Story wat in Junie 2018 by Emperors Palace te sien was, het ontdek dat daar onwettig kaartjies vir dié vertoning aan die publiek verkoop is. Volgens ʼn verklaring van Lefra Produksies is kaartjies in daardie stadium vir Buddy ten duurste deur middel van die webtuiste www.viagogo.co.za aan teatergangers verkoop. Lefra het die publiek ontmoedig om van dié webwerf gebruik te maak.

Die Britse sanger Ed Sheeran het ook die webwerf gepak nadat Viagogo kaartjies vir sy konsert in Londen, Hampden en Manchester herverkoop het.  Dít nadat dit baie duidelik gemaak is dat niemand toegelaat sal word om Ed Sheeran-kaartjies te herverkoop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bettie ·

Daar is baie mense in SA wat al hul vingers verbrand en baie geld verloor het met Viagogo. Ek self ken ‘n hele paar. Dis goed dat die mense nou lees hulle kan nie die maatskappy vertrou nie.

JM ·

Dit is nuus in Suid-Afrika, ons het kaartjies bespreek vir Il Divo deur Viagogo en toe ons op die ou einde die kaartjies druk, toe is dit Computicket kaartjies wat aan ons verkoop is. Ek het die pryse gaan vergelyk op Computicket en gesien dat ons R8000 te veel betaal het vir dieselfde kaartjie, selfde blok, selfde vertoning.

Piet Pompies ·

O… yes, I am the great pretender – Freddie Mercury

Matt ·

Wens die “waghondorganisasie” in Suid Afrika wil ook wakkert skrik en die suiker belasting ondersoek: kyk hoe styg die prys van veral Coca Cola terwyl al die ander geure se pryse dieselfde bly – ander geure se suiker inhoud is hoër as die van Coke – wie verneuk hier wie wie en CR se regering baat daarby.

Dries ·

Ek het vir Il Divo kaartjies teen R650 el gekoop. Di sms wat dit bestig het, het egter R1 709 van my rekening verhaal!
Ek kon ni di “kaartjies” uitdruk ni, en my ‘screen shots’ wat ek daarvan gedruk het, was uiteraard ni aanvaar ni en ons het di vertoning gemis…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.